AdvertorialNews

Mabalingwe- natuurreservaat herrys na brand

Die Pos-span het weereens die pad gevat en hierdie keer het ons gaan kyk na Mabalingwe-natuurreservaat se wonderbaarlike herstel na die verwoestende brande wat in September 2023 groot skade op die reservaat aangerig het.

Soos die spreekwoordelike feniks het Mabalingwe ook uit die as herrys. Ongeveer 80% van die veld en 37 lodges is in die vlamme verswelg.

Met ons besoek was dit duidelik dat Mabalingwe druk besig is om die skade te herstel.

Daar is reeds verskeie van die groot huise (lodges) herbou en op ander persele is daar ’n netwerk van bouers en kontrakteurs besig.

Hoewel die veld hierdie tyd van die jaar snuif droog is, is dit duidelik dat dit sodanig herstel het dat die wild steeds in ’n baie goeie toestand is. Daar was plek-plek soutblokke en molasse vir die diere uitgesit as byvoeding vir minerale wat hul nodig het.

Hannes Wessels het aan Die Pos vertel dat die groot katte in die roofdierpark ongeskonde gebly het in die brand.

Hoewel die gebied rondom die hokke gebrand het, het Marize Roets, ons toergids, vertel hoe hulle die dae en nagte van die brand in die groot katte se hokke bontgestaan het om die vuur van die drade weg te hou.

Sy het ons voorgestel aan die Siberiese-tiere (wat die grootste kat-spesie in die wêreld is), die Bengaalse tiere, drie pragtige wit leeus, die gewone goue leeus was in meer as een kamp, hiënas, rooikatte, wilde honde en jagluiperds. Haar kundigheid oor die katte se gewoontes en unieke eienskappe het Die Pos-span baie beïndruk.

Die diere het lui-lekker in die koelte van die bome gelê en een van die hiënas het selfs in hul poel geswem voor sy kom groet het.

Geen van die diere het enige teken getoon dat hul deur ’n noue ontkoming gekom het nie. Al die roofdiere wat op Mabalingwe gehuisves word, is uit aanhouding gered en kan dus nie weer in die natuur vrygelaat word nie. Hulle leef dus nou in gemak in Etopia, of te wel Mabalingwe.

Die letsels van die brand is steeds sigbaar waar rotse en kranse nog swart gebrand is.

Daar is verskeie groot bome wat in die slag gebly het en hul verkoolde stamme is nog ’n stille getuienis van die brand. Maar selfs in dit wys dat Moedernatuur weer sal herleef. Sommige van die swart gebrande stamme staan trots met liggroen nuwe blaartjies om die draai van die seisoen aan te kondig.

Hierdie deursettingsvermoë en drang om voort te bestaan stuur ’n duidelike boodskap uit en dit is dan ook die lewensfilosofie van Hannes Wessels en sy personeel: Hulle sal volhard om Mabalingwe te herstel en uit te bou tot sy volle glorie.

Mabalingwe-natuurreservaat is 28 km wes van Bela-Bela op die R516 (Thabazimbi-pad) geleë en beslaan nagenoeg 8800 hektaar en huisves ongeveer 36 verskillende soogdier spesies en meer as 220 verskillende voël spesies.

Dit is definitief ’n besoek werd en die besoekers kan hulself vergewis waarom word Mabalingwe gereken as een van die top privaat natuurreservate in Suid-Afrika.

Die Pos-span sê dankie vir die heerlike uitstappie. Vat-die-Pad soos Die Pos-span en gaan leer meer oor jou omgewing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button