News

VLU besoek komkommerplaas

Net ’n paar kilometer buite Mookgophong op die R101, in die rigting van Modimolle, draai die pad af na Krispy Farms.

Dit is hier waar die lede van dieVroue Landbou-unie se Naboomtak op Dins-dag, 10 September gaan kyk het wat kommersiële komkommer-verbouing behels.

Alec Eybers, produksiebestuurder vir dié komkommerboerdery, het hulle touwys gemaak.

Eybers het vertel dat die dae van lande vol komkommerplante verby is en die plante word nou in reuse tonnels, of eerder ‘huise’, verbou.

Die vroue is op ’n begeleide toer geneem om self te sien hoe die plante wetenskaplik geplant, gevoed, natgelei word deur drupbesproeiing en dan hemelhoog opgelei word op die hidroponikametode.

Alle prosesse word met rekenaars beheer soos die temperatuur in die ‘huise’ asook die presiese voedingsmengsel wat toegedien word.

Die vroue wat strewe na ’n groen toekoms was beïndruk toe hul sien hoe omgewingsvriendelik die water en groeimedium herwin word.

Daar word ook sonkrag opgewek. Daar word weekliks sowat 150 000 komkommers van verskillende groottes op bestelling gepluk en in Krispy Farms se eie pakhuis verpak.

’n Bekende kettingwinkel verkoop hierdie komkommers landwyd.

Die vroue was dit eens: nooit weer sal hulle geringskattend na die nederige komkommer kyk nie – dit is eerder ’n kraakvars en gesonde groentejuweel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button