Local newsLocal sportNewsSportSportSport

Nog ’n Protea-speler uit Bela-Bela

Die inwoners van Bela-Bela is met reg trots dat nóg ’n jong Protea-krieketspeler uit eie bodem gekweek is.

Jorich van Schalkwyk, is ’n naam wat definitief in die toekoms dopgehou moet word.
Jorich is onlangs verkies vir die SA o.19-krieketspan wat in September in Zimbabwe gaan toer ter voorbereiding vir die o.19 Wêreldbeker.
Jorich is tans ’n matriekleerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria en is ’n boorling van Bela-Bela. Hy het reeds op vyf jarige ouderdom sy voorliefde vir krieket gewys. Hy het sy skoolloopbaan by Laerskool Warmbad begin, maar is al van baie jonk af betrokke by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se krieket.
Sy pa, Heinrich van Schalkwyk, die eienaar van Gijiminathi Grondverskuiwings in Bela-Bela, en sy ma Joni, is vreeslik trots en baie opgewonde oor wat die toekoms vir hul seun inhou.
Sy pa onthou hoe hy altyd die krieketbal vir klein Jorich gegooi het en sy ma het hoeveel keer per week deurgery Pretoria toe sodat hy kan tennis- en krieketafrigting kry. Die opoffering het beslis vrugte afgewerp. Hul kinders is altyd geleer: “leef jou droom”.
Jorich beplan om aanstaande jaar aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) bemarkingsbestuur te gaan studeer. Hy is reeds deel van die Tukkies-krieketklub en sal dan meer geleentheid kry vir afrigting en oefening. Maar hy erken, die planne kan in ’n oogwink verander.
Klein Jorich het die eerste keer as elfjarige provinsiale krieket gespeel toe hy in die Limpopo o.11-span ingesluit is. Soos sy held, AB de Villiers, wat ook in Bela-Bela grootgeword het, is hy ook ’n veelsydige speler (all rounder). Hy is ewe bedrewe met die kolf en is ’n kookwater bouler.
Hy speel gewoonlik as openings kolwer en het in ’n onlangse wedstryd teen Cornwall Hill College ’n allemintige 240 lopies vanaf 152 aflewerings aangeteken. Dit het 34 viere en 7-sesse ingesluit.
Jorich het reeds hierdie seisoen drie honderd talle en 2 dubbel honderdtalle vir Affies se eerstespan aangeteken.
Van Schalkwyk is verlede jaar (2023) verkies vir die Titans se o.19 Khaja Majola-span en is later ook verkies vir die Suid-Afrikaanse Skolespan.
Hy is tans in die 2024-seisoen baie naby aan die 1 000-lopie merk, en gegewe sy rekord, behoort hy die mylpaal in sy volgende wedstryd te oorskry.
Sy pa, Heinrich sê dat krieket nog altyd Jorich se droom was en hy het altyd gesê dat hy eendag gaan groot krieket speel soos sy held, AB de Villiers, wat gereken word as een van die voorste kolwers in die wêreld. Nog ’n oud Protea-speler wat vanaf Bela-Bela afkomstig is, is Martin van Jaarsveld wat in 2002-2004 vir die Proteas gespeel het.
Daar is verseker iets in Bela-Bela se water wat krieketspelers van formaat kweek en liefhebbers van die sport kan gerus die naam van Jorich dophou, sy krieket toekoms lyk blink.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button