Local newsNews

Jongboer van die Jaar uit ons kontrei

Dit is die eerste keer dat ’n varkboer die gesogte boer van die Jaar-toekenning van die Transvaalse Landbou Unie – Suid Afrika (TLU SA) wen. Die groot eer het Wian Süllwald (31), ’n boer op Roodekuil, buite Bela-Bela op Woensdag 4 September, te beurt geval.

Süllwald (31), ’n boorling van die Springbokvlakte, boer op Roodekuil, buite Bela-Bela met varke. Hy en sy vrou, Irmarie, woon op die familieplaas, RK Boerdery. Süllwald is reeds vier jaar aktief besig in die boerdery wat hy saam met sy pa, Manfred en oom bedryf.

Hy is verantwoordelik vir die daaglikse bestuur en ook die produksiebestuur, wat nie net diere vir die mark lewer nie, maar ook die aanteelvarke bestuur.

Hy plaas ’n baie hoë premie op die gesondheid van die diere en kwaliteitsbeheer. Die RK-boerdery het hul aandeel in die varkbedryf vergroot en is nou ook betrokke by ’n vark-abbatoir.

TLU sê in ’n mediaverklaring Süllwald se reaksie op sy oorwinning was een van nederigheid en dankbaarheid. “Dit is ’n groot eer om te wen, veral as ek dink aan my pa en oom wat ’n groot rol in my sukses gespeel het.

Ek is ’n produk van hul harde werk en ek is dankbaar om hul as my mentors te hê.” Hy het ook die borge bedank vir hul bydraes tot die kompetisie en genoem dat hy reeds die bakkie wat hy gewen het, met trots bestuur.

Wian sien uit na sy besoek aan die Manitou-fabriek in Frankryk volgende jaar en is opgewonde om die produksie van masjinerie van naderby te beleef. Hy het ook van die prysgeld, wat hy van Santam ontvang het, weggesit vir sy vrou, Irmarie, sodat sy hom op hierdie avontuur kan vergesel.

Met ’n deurwinterde agtergrond in professionele sport is Wian van nature kompeterend, maar hy erken dat daar ander jong boere is, wat ook goed presteer. Sy boodskap aan mede-jongboere is:

“Raak betrokke by georganiseerde landbou en reik uit na kundiges. Boerdery gaan vandag oor meer as net die praktiese aspekte daarvan. Leer by ouer en ervare boere en maak ’n verskil waar jy kan.”

Wian is vasberade om landbou te bevorder en ’n verskil te maak in die varkbedryf. “My hart en hand is oop om landbou te promoveer en mense kundig te maak. Dit is belangrik om ’n positiewe bydrae te lewer,” lui die verklaring.

Hy het ’n groot voorliefde vir perde wat hy met sy ma, Ursula deel. Hy is ook ’n bobaas skut en skiet graag as daar ’n breek kans is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button