Local newsNews

Vragmotor brand in Modimolle hoofstraat

‘n Vragmotor gelaai met veevoer was Maandagmiddag in ligte laaie in Modimolle se hoofstraat en het verkeer deur die dorp erg belemmer.

Die bestuurder van die vragmotor, wat op pad was van André Kock Afslaers in Bela-Bela na die veilingskrale in Polokwane, het kort voor die ingang na Modimolle verby ’n veldbrand gery.

Volgens Jossie Steyn van die onderneming het van die brandende of smeulende gras vermoedelik daar op die trok beland.

“Daar was gelukkig iemand wat agter die vragmotor gery het wat gesien het die voer begin brand. Hy het die bestuurder gewaarsku en hy kon van die pad af trek.

Dit was gelukkig ’n vragmotor met twee ‘links’ sodat die perd afgehaak kon word en veilig was,” het sy gesê.

Die vragmotor het vyftig bale gras vervoer en die skade word op sowat R30 000 gereken vir die voer. “Dit wil voorkom asof die waens ook baie skade opgedoen het en moontlik vervang sal moet word,” het Steyn gesê.

Brandbestryders van die brandbestrydingvereniging was gou op die toneel om die smeulende gras te blus. Die vragmotor het reg voor Hoeksteen Aqua stilgehou en die waterwinkel kon help om water te voorsien om die vlamme te blus.

Die Waterberg Distriksmunisipaliteit se brandweer het ook opgedaag om die vuur te blus, maar dit het volgens omstanders ’n tydjie geneem voordat hulle kon begin om die vlamme te help blus.

 

Related Articles

Back to top button