EntertainmentLifestyleNews

Mej. SA se pa eens op ’n tyd deel van Die Pos-koerant

Schalk en Liesel le Roux is breëbors oor hulle beeldskone dogter, Mia wat verlede Saterdag, 10 Augustus, in die Sunbet Arena in Pretoria die Mej. SA-kroon verower het.

Mia (28) is die eerste gehoorgestremde Mej. SA. Sy het op tweejarige ouderdom ’n kogleêre inplanting gehad.

Schalk het Dinsdagoggend telefonies met Die Pos gesels oor sy betrokkenheid by die koerant in die negentiger jare.

“Ek is deur Danie Stolz wat in 1991 die koerant gekoop het, genader om die kantoor in Nylstroom (nou Modimolle) te bedryf. Ek en Danie het saam by Beeld in Johannesburg gewerk voordat hy

Warmbad (Bela-Bela) toe verhuis en Die Pos gekoop het. Hy het my gevra om die Nylstroom-been van die sakeonderneming te kom bestuur.

Ek was vir drie jaar joernalis, subredakteur, fotograaf en bemarker vir Die Pos-koerant. Ek het ook self die foto’s ontwikkel. My vrou het skoolgehou op die dorp. Dit was wonderlike jare. Ons was baie gelukkig in Nylstroom.”

Hulle het daarna na Sasolburg verhuis waar Mia gebore is. Met haar geboorte het hulle agtergekom sy is gehoorgestremd en het toe na Pretoria verhuis waar sy ’n kogleêre inplanting gekry het.

Die gesin het in 2001 in Oudshoorn gevestig waar Schalk die gemeenskapskoerant, Die Hoorn, saam met sy vrou op die been gebring het.

Hy was die uitgewer en sy die redakteur. Die egpaar het in 2022 die koerant verkoop, maar het steeds ander sakebelange in die dorp.

Hy het aan Die Pos gesê dat hulle baie trots is op hul mooie Mia, wat vanjaar die Mej. SA septer swaai.

Related Articles

Back to top button