Local newsLocal sportNewsSport

Tennisklub kry nuwe baadjie

Ses tennisbane van die Nylstroom-tennisklub in Modimolle sien splinternuut daar uit nadat dit onlangs oorgedoen is.

Die klub is dekades lank reeds die hartklop van die ‘tennisfamilie’ in die omgewing, met inwoners wat mekaar gereeld hier vir ’n potjie tennis ontmoet.

Die klub is, volgens Sarna Groenewald, een van die min tennisklubs in die provinsie wat steeds floreer.

Die hoë onderhoudskoste van tennisbane lei daartoe dat talle klubs en skole nie meer hul bane kan onderhou nie.

Groenewald skryf die klub se sukses daaraan toe dat daar ’n sterk komitee is wat die klub goed bestuur.

“Die bane is onlangs oorgedoen danksy ons lede en borge se bydraes,” het sy gesê.

Die plaaslike skolespanne vaar uitstekend in hul ligas en maak staat op die klub se bane vir wedstryde en oefening. Die netjiese bane, wat in Kerkstraat geleë is, is ideaal om tennistoernooie aan te bied.

“Ter wille van die volhoubaarheid en die toekomstige ontwikkeling van die sport, kan ons nie dat hierdie bane tot niet gaan nie. Tennis is nie ’n sport wat ’n mens slegs speel wanneer jy op skool is nie, maar wat selfs vir dekades ná skool nog steeds gespeel kan word,” het sy gesê.

Die klub se dertig volwasse lede, talle ouer as sewentig, getuig daarvan.

Daar is ook meer as veertig kinders wat gereeld by die klub speel.
Die klub se sosiale dae is ’n weeklikse hoogtepunt met oud en jonk wat aantree vir wedstryde volgens hul vaardigheidsvlakke.

“Oom Hampie van Staden is 81 jaar oud en jarelank ’n klublid. Hy het onlangs ’n rugoperasie gehad, maar is weer terug op die tennisbaan. Ons is ’n lekker groep sosiale spelers en mense voel tuis hier,” het sy gesê.

Die klub se sosiale dae is op Woensdag en Saterdagmiddae van 14:00 tot donker. “Junior- en senior-spelers wat op ’n sekere vlak kan speel, speel op hierdie dae teen mekaar. Dit help die jonger lede om hul vaardighede te slyp.

” Die klub het twee uitstekende afrigters wat baie doen om die sport onder die jongmense te vestig.

Die besoekersfooie vir seniors is R40 en R25 vir juniors op nie-sosiale dae, met ’n R20-balfooi. Vir speeltyd buite sosiale tye, kan vooraf met Groenewald of ander klublede gereël word vir toegang.

Vir meer inligting oor die klub, kan belangstellendes vir Groenewald kontak by tel. 079 074 3614.

Related Articles

Back to top button