News

VLU-vroue woel

Die lede van Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboomspruit-tak het ’n bedrywige Junie en Julie agter die blad.

Die groep het gebaat by die kennis van die sprekers tydens hul byeenkomste.

Hulle het egter nie net geluister nie, maar was in die kombuis met die voorbereiding doenig van ’n eersteklas driegang-maaltyd vir 200 gaste tydens die Boeremusiekfees wat op Saterdag, 15 Junie, by Die Olifant-restaurant aangebied is.

Die groep het entoesiasties saamgewerk en in ’n vrolike atmosfeer gou klaar gespeel met die bone en pampoen se bewerking. Ná die funksie het hulle baie komplimente ontvang.

Ronel Mostert, die VLU se Skrywer van die Jaar, het op Dinsdag, 11 Junie gesels oor vrouwees. Innerlike skoonheid is die werk van ’n leeftyd. ’n Mens se optrede, hoe ’n mens situasies en die lewe benader, is ’n maatstaf daarvan. Sy het gesê dat jy ander hul talente en gawes moet gun en die son oor almal moet laat skyn.

Dit is belangrik om in jouself en jou eie potensiaal te glo. Leef jou drome en wees gelukkig – wees die beste weergawe van jouself.

Die oggend van Dinsdag, 18 Junie was groot pret saam met Mien Farrell en Jenna Kearney wat die vroue geleer het hoe om nougatlekkers en roulade te maak. Die twee sjefs het die vroue aan hul lippe laat hang.

Gedurende Julie, waarvan die tema gesondheid was, het Gerda Roos, ’n fisioterapeut van Mokopane, die vroue meer vertel oor beweeglikheid en balans by bejaardes. Roos, wat reeds meer as 10 000 ure in haar werk agter die blad het, het met groot passie oor haar werk gesels.

Volgens haar is dit belangrik om eers ’n mens se kop reg te kry voordat jy besluit om iets aan te pak, en nie te veel verskonings uitdink oor hoekom jy dit nie moet doen nie. Die vroue het gehoor dat ’n skuifelloop ’n mens se kuitspiere verkort wat tot gevolg het dat ’n mens later vooroor loop. Jou balans is dan reeds aangetas.

Dit is daarom belangrik om bewegings-oefeninge te doen. Aan die begin kan mens dit sittend doen en later staande in ’n veilige omgewing waar daar geen risiko is dat jy kan val nie.

“Beweeglikheid is belangrik vir ons eie onafhanklikheid,” het sy gesê.

’n Mens kan met oefeninge begin deur terug te gaan na baba-ontwikkeling en eers van een sy na die ander te rol, dan kruip, dan opstaan teen ’n stewige apparaat.

“Lê elke dag vir ’n rukkie op jou maag, sodat jou rug reguit is.

Ander oefeninge om balans te verbeter is om op een been te staan en tande te borsel of wanneer jy groente skil. Met gereelde beweging bevorder jy jou balans.”

Die tak is tans ook besig met welwillendheidsprojekte. Die lede hekel vierkante wat 20 cm wyd is, wat later aan mekaar vasgewerk sal word.

Dit sal geskenk word om by te dra tot die beskerming van renosterkalfies. Die lede hekel ook kombersies vir ’n plaaslike kinderhuis.

Inwoners wat deel van hierdie bedrywige groep vroue wil word, kan die skakelpersoon, Debbie Weideman, by tel. 082 775 6468 kontak.

Related Articles

Back to top button