Local sportNewsSchoolsSportSport

Toernooi gee spelers kans om te ontwikkel

Gretige tennisspelers het vroegoggend op Vrydag, 26 Julie by die Nylstroom-tennisklub bymekaar gekom om deel te neem aan die Rising Star-distrikstoernooi.

Die Rising Star-toernooie is daarop gemik om die sport te ontwikkel en jong spelers van regoor die land geleentheid te gee om wedstryde te speel. Dit is die vyfde jaar wat dit landswyd aangebied word. Laerskool Nylstroom, Spa Park Primary School van Bela-Bela en Laerskool Van Wykskraal van Thabazimbi het aan hierdie toernooi deelgeneem.

Laerskool Nylstroom se eerste meisiespan dring deur na die provinsiale uitspeelronde. Hulle is Carla Erasmus, Arné Oosthuizen, Lize van der Walt en Rolande Kirstein.

Die topspanne sal deurdring na die provinsiale rondes wat van 12 tot 14 September in Polokwane gehou word. Die nasionale byeenkoms sal van 25 tot 27 Oktober gespeel word.

Laerskool Nylstroom se spanne het goed presteer met die eerste seuns- en mei-siespanne wat deurdring na die provinsiale uitspeelwedstryde. Beide die eerste seuns- en meisiespanne was distrikwenners, met die tweedespanne in die tweede plekke en die derde spanne in die derde plekke.

Laerskool Nylstroom se eerste seuns- en meisiespanne was verlede jaar die provinsiale wenners.

“Die toernooi is baie verrykend vir die kinders en hulle doen baie ondervinding op. Hulle kry die kans om teen spelers met ander tennisstyle te speel en leer om daarby aan te pas,” het Tanya Verhoeven van Laerskool Nylstroom gesê.

Die Nylstroom-tennisklub se bane is vier maande gelede oorgedoen en skole in die omgewing maak daarvan gebruik om toernooie aan te bied. “Ses van die klub se bane is onlangs oorgedoen – ons is baie dankbaar dat ons die fasiliteite mooi in stand kan hou tot voordeel van die skole en die res van die gemeenskap,” het Sarna Groenewald van die klub gesê.

“Die kinders het die toernooi terdeë geniet. Selfs na die afloop van die wedstryde het hulle nog lank aangehou tennis speel.”

Die laerskole se ligawedstryde het op Woensdag, 31 Julie by die klub begin en die hoërskole se liga begin op Vrydag, 2 Augustus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button