NewsBreaking News

Freitag-moord: Lubbe en Oosthuizen se borgaansoek uitgestel

Die borgaansoek van Rudolf (Rudie) Lubbe en Chantelle (Shantellé) Oosthuizen wat daarvan verdink word dat hulle die oud-wêreldkampioen in hoogspring, Jacques Freitag vermoor het, is Woendag, 24 Julie in die landdroshof in Pretoria tot Woensdag 31 Julie uitgestel.

Die staat het vir die uitstel gevra om bevestiging te kry oor die woonadresse wat die beskuldiges verskaf het. Lubbe en Oosthuizen bly in aanhouding.
Die twee verdagtes wat voortvlugtig was, is op Dinsdag, 16 Julie, naby Sabie by ’n gastehuis vasgetrek.

Lubbe (52) en Oosthuizen (42) wat bekende gesigte hier op Bela-Bela is, staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord en sameswering om ’n moord te pleeg.

Lubbe, ’n oud-prokureur, en Oosthuizen sit na bewering ook agter die erge aanranding van Louis Harmse (31) van Thabazimbi.
Oosthuizen was sowat 16 jaar in ’n verhouding met Lubbe.

Hulle het vir geruime tyd ’n huis gehuur in Bela-Bela en dit is klaarblyklik by die bekende kuierkroeg De La Reys, buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad, waar Oosthuizen vir Harmse ontmoet het en kort daarna verloof geraak het. Die kuierkroeg wat verlede jaar sy deure toegemaak het, het aan Lubbe en sy seun, Lenus behoort.

Harmse het vroeër aan ’n Sondagkoerant vertel dat hy op 13 Junie onder valse beloftes van ’n hereniging met Oosthuizen en ’n werk op ’n plaas na Lubbe se huurhuis in Montana, Pretoria, gelok is.

Volgens Harmse het Lubbe en Oosthuizen die oggend vir hom gesê hy moet hom solank tuis maak terwyl hulle dwelms gaan koop. Freitag het hom toe glo van agter bekruip en met ’n baksteen aangerand. Freitag was ’n vriend van Lubbe.

Harmse moes 240 steke kry en die agterkant van sy skedel is onder meer vergruis. Hy is na die Montana-hospitaal geneem en sterk tans in ’n rystoel aan. Hy het op 1 Julie ’n klag by die Thambazimbi- polisie gelê. Freitag is in dieselfde tyd as vermis aangemeld.

Sy lyk is op 1 Julie in ’n veld langs die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-Wes met steek- en skietwonde gevind. Daar word vermoed dat hy vermoor is omdat die huurmoord op Harmse skeefgeloop het.

Lubbe se seun, Lenus, wil homself egter nie uitlaat oor die aanklag-
te teen sy pa nie.

Hy is deur die polisie ondervra en hou daarby dat hy glad nie by die aanranding op Harmse betrokke was nie.

Lenus is aan stuur van sake by die De La Reys-bakkery wat bekend is vir hul heerlike broodrolle en knoffelbrode en hy is ook ’n slangvanger in die omgewing.

Lubbe het ook ’n dogter en ’n ouer seun, Rudolf, wat ’n vlieënier in die Maldives is. Die twee seuns was albei Woensdag in die hof om hul pa te ondersteun.

Related Articles

Back to top button