News

Dokter wil wêreldrekord verpletter

’n Boer kan heeldag op sy trekker sit en lande bewerk, maar dit vat baie spesiale deursettingsvermoë en toewyding, om vir liefdadigheid vir 21 dae agter die stuur van ’n trekker te sit en 3 500 km af te lê op ver en vreemde paaie.

Dr. Andre Hattingh van Mbombela (Nelspruit) het vir homself hierdie doelwit gestel, en hy is sterk op pad met sy poging om die wêreldrekord te verbeter.

Op Dinsdag, 23 Julie, het dr. Hattingh in die verbygaan op sy roete na Thabazimbi by Hoërskool Warmbad aangedoen.

Louis Cilliers (skoolhoof) het gesorg dat die leerders vir hom ’n erewag vorm en hom hartlik ontvang. Hy het ook gesê dat dit prysenswaardig is dat dr. Hattingh die reis aangepak het tot voordeel van kinders. Hy praat namens die Warries en sê dat hul die projek ten volle ondersteun.

Namens Pediatric Care Africa wil Hattingh poog om met ’n trekker deur ses van Suid-Afrika se provinsies te toer, en sodoende fondse in te samel vir die organisasie. Hy het die organisasie gestig in 2017, na sy aftrede as neurochirurg, met die uitsluitlike doel om kinders by te staan wat, of deur gebrek aan fasiliteite, of die gebrek aan toegang tot sulke fasiliteite, nie die nodige mediese sorg kan bekom nie.

Sedert Pediatric Care Africa se stigting in 2017, het hulle al gratis mediese sorg vir 7 849 persone beskikbaar gestel, en 1 824 kinders het al ’n spesialis van een of ander aard gekonsulteer. Daar het 184 kinders al gratis chirurgiese prosedures ondergaan, en 511-ton voedsel is al geskenk. Plaaslik verskaf hulle ook voedsel, klerasie, en mediese bystand in ramp geteisterde gebiede, soos die onlangse veldbrande in Hertzogville in die Vrystaat.

Die Pos kon daarin slaag om Hattingh se rit vir ’n wyle te onderbreek by Peet se Padstal buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad. Hy sê dat hy tot op hede sowat 450 km met sy Mahindra-trekker afgelê het. Daar lê nog 3000 km voordat hy sy eindpunt in Mbombela (Nelspruit) bereik.

Hy het skertsend opgemerk dat die eerste 1 000 km fisiese bestuur is en daarna word dit ’n geloofsaak en ’n geestelike reis.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button