NewsSportSport

Langasem skop stof in ander se oë

Uit eie bodem het Gizelde Strauss gewys dat die Waterberg gedugte kampioene oplewer.

 

Strauss het na ’n vier jaar reses weer haar hardloopskoene op Sondag, 7 Julie, aangetrek en aan die Suid-Afrikaanse Duathlon-kampioenskap by die Midmardam in KwaZulu-Natal deelgeneem.

Sy was die wenner in die naelloop-afdeling in haar ouderdomsgroep (25–29) en is ook algeheel eerste geplaas onder die vroue deelnemers.

Sy het aan Die Pos verduidelik dat elke duathlon-byeenkoms verskil aangesien die tipe terrein en die weersomstandighede bepalend kan wees. In duathlon word daar meegeding in ’n kort hardloopsessie, dan word daar fiets gery voor ’n lang hardloop sessie aangepak word.

Strauss is van drie jarige ouderdom ’n boorling van Bela-Bela en het haar eerste byeenkoms by Laerskool Warmbad afgelê waar sy op 12-jarige ouderdom haar eerste duathlon gehardloop het.

Hierdie gesoute atleet het haar talent verder ontwikkel by die High Performance Centre (HPC) in Pretoria waar sy ook gematrikuleer het. Strauss het in 2015 die Adelaide ITU Duathlon

Wêreldkampioenskap in Australië gewen in die junior vroue-afdeling.

Sy is vol lof vir haar eertydse afrigter, Van Reenen Cloete, wat haar loopbaan help vorm het. Sy het ook gesê dat haar ouers Christo en Janet Strauss, wat albei werksaam is in die Bela-Bela gemeenskap, haar nog altyd ondersteun en gemotiveer het.

As Suid-Afrikaanse kampioen is sy nederig oor haar prestasies en sê sy wil nou net fokus op haar sport. Sy is versigtig om enige voorspellings te maak, maar met hierdie jong sportster se durf en lus vir avontuur skeel daar niks nie en ons sal weldra nog baie van hierdie uitmuntende atleet verneem.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button