News

Besige Dinsdag vir brandbestryders

’n Brand het op Dinsdagmiddag, 16 Julie groot skade aan die King’s-droogskoonmaker in die hoofstraat van Modimolle aangerig.

Dié onderneming, hoewel dit oor die jare van eienaar verwissel het, is reeds dekades lank op dieselfde plek geleë.

Rookbolle het bokant Kranskop uitgeborrel nadat ’n veldbrand ’n groot aantal hektaar gebrand het.

Volgens die eienaar, Heiletta Biewinga, wat die onderneming sedert 2019 bedryf, is hulle nie seker wat die brand veroorsaak het nie, maar vermoed dat dit ’n elektriese fout kon wees.

“Ons is baie dankbaar dat niemand beseer is nie. Die man wat voor in die winkel was kon ’n ruit uitslaan om uit te kom en die ander personeel is almal by die agterste deur uit. Dit is net die voorste deel en ’n masjien wat beskadig is. Ons wassery aan die agterkant en die droogskoonmaak-masjien is ongedeerd. Wanneer ons elektrisiteitstoevoer herstel is, sal dit weer kan werk,” het sy gesê.

Hulle het dieselfde dag reeds van die wasgoed na hul tak in Bela-Bela geneem sodat dit gewas kan word.

“Nie een van ons het gisteraand geslaap nie, dit was ’n groot skok. Die man van die versekering was reeds hier om die skade te bepaal.” Volgens Biewinga was die brandweer en lede van die gemeenskap blitsig op die toneel om die vlamme te blus en die skade te beperk.

“Ek is baie dankbaar vir elkeen wat ons gehelp het.”

Hulle het reeds begin om die gebou skoon te maak sodat herstelwerk so spoedig moontlik kan begin.

Terwyl die brandweer die vlamme geblus het, het naburige winkeleienaars wat klere verkoop, benoud hul deure en vensters toegemaak om rookskade aan hul handelsware te voorkom.
Veldbrand

Dit was ’n middag van vure doodslaan nadat ’n veldbrand terselfdertyd amok gemaak het op plase in die Kranskop-omgewing. Boere, die brandbestrydingsvereniging (FDA) en Working on Fire (WOF) het ingespring om die vlamme te blus.

Volgens Mariette Nicholson van die brandbestrydingsvereniging het twee spanne van WOF gister van etenstyd tot 22:00 die vlamme die stryd aangesê. “Dit het deur die nag nog gebrand en ons het vanoggend (Woensdag) weer spanne uitgestuur.

Die laaste vlamme behoort vandag geblus te word.”

Verskeie plase in die tolhek-sektor naby Kranskop is deur die brande geraak. Teen saktyd was die oorsaak van die brand nog nie bekend nie, en is daar nog nie bepaal hoeveel hektare afgebrand het nie.

“Inwoners moet asseblief onthou dat die brandverbod steeds geld. Geen oop vure word toegelaat nie. Ons vra dat enige tekens van rook aan my, of Willem Crause of op een van die Whatsapp-veiligheidsgroepe gerapporteer word, sodat ons so gou moontlik kan reageer,” het sy gesê.

Nicholson kan gekontak word op tel. 083 542 3218 en Crause se nommer is tel. 060 518 1387.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button