News

Gaste smul heerlik by Stroper-spitbraai

Vir meeste Suid-Afrikaners is ’n braai oor die naweek standaard tydverdryf. Maar as daar ’n buitengewone geleentheid is, sal ’n sappige lam op ’n spit gebraai word. Maar om twaalf lammers op een slag te braai is ’n groot feesviering.

Dit is presies wat Langplaas-restaurant in Bela-Bela op Saterdag, 29 Junie gedoen het. Wat die groot makietie nog meer uniek gemaak het, is dat hul nege lammers op ’n aangepasde stroper gespitbraai het.

Die stroper het nege lammers gelyk op die spit gebraai.

Die ander drie lammers is saam met vier varke en vier krokodille op konvensionele spitte gebraai.

Adel Bonthoux, mede eienaar van Langplaas sê hul het lank beplan aan die stroper-spitbraai-dag. Die stroper het al die pad van Roedtan af gekom en het hul van 09:00 af al gespring om al die vleis op die onderskeie spitte te kry en gereeld met hul geheime doepa te bedruip om die vleis sappig te hou terwyl dit braai.

Die gemeenskap van Bela-Bela het reeds vroegmiddag opgedaag en gedeel in die heerlike, gesellige atmosfeer terwyl die watertand geur van braaivleis swaar in die lug gehang het.

Die immer gewilde Afrikaanse popsanger, Ray Dylan, het die gaste vermaak en die polsende musiek het behoorlik die voete laat jeuk. Hy het ’n baie charismatiese verhoogpersoonlikheid en het sommer gou die gaste betrek en was dit nie vreemd dat hul heerlik met hom saamgesing het nie.

Adel het aan Die Pos gesê dat hul geen borge vir die vleis gehad het nie en hul het alles plaaslik aangekoop. KWV en SA Brouerye het egter sambrele verskaf en kon die gaste heerlik skuiling soek en kuier terwyl die Bosveld-son nog heerlik warm gebak het.

Hoewel daar vir meer as 500-gaste voorsiening gemaak is, het slegs sowat 200-gaste teen 16:30 aangesit vir die feesmaal. Dit was dus nie vreemd dat daar ’n groot hoeveelheid vleis en bykosse oorgebly het nie.

Adel en haar man, Fabrice, het besluit om die vleis aan liefdadigheidinstansies in die dorp te skenk vir hul voedingskemas van kinders en ander minderbevoorregte mense.
Een dink is seker, vir die Langplaas-span is stil sit nie ’n opsie nie.

Hul is reeds besig om ’n groot potjiekos-kompetisie te reël en in September is die Langplaas-fees weer op die kalender.
Hul bedank ook graag die inwoners van die kontrei wat hul gereeld ondersteun.

Related Articles

Back to top button