News

Respekteer natuur, sê jagter (94)

In die bos, doodstil en met ’n oorgehaalde jaggeweer teen sy skouer is die 94-jarige Faan van Wyk op sy gelukkigste. Hoewel die jare aanstap, bly sy sneller-vinger en korrel steeds akkuraat – net enkele weke gelede het hy ’n koedoe op ’n plaas buite Tolwe geskiet sodat daar darem biltong vir die wintermaande is. …

In die bos, doodstil en met ’n oorgehaalde jaggeweer teen sy skouer is die 94-jarige Faan van Wyk op sy gelukkigste.

Hoewel die jare aanstap, bly sy sneller-vinger en korrel steeds akkuraat – net enkele weke gelede het hy ’n koedoe op ’n plaas buite Tolwe geskiet sodat daar darem biltong vir die wintermaande is.

Nie net het hy gaan jag nie, hy het ook sy voertuig met ’n sleepwa al die pad soontoe en terug bestuur. Dit is verseker nie vir alle 94-jariges beskore om so aan die gang te wees nie.

“My pa het gesê hy wil vir oulaas ’n koedoe skiet, maar hy begin al klaar praat oor die een wat hy volgende jaar gaan skiet!” vertel sy dogter Koti van Eck. Van Wyk woon saam met sy vrou Hannetjie, op ’n plaas buite Modimolle. Die egpaar het vroeër vanjaar hul sewentigste huweliksherdenking gevier.

Jag is ’n groot deel van Van Wyk se lewe – dit was immers dekades lank sy beroep. Hoewel hy aanvanklik saam met sy pa gewerk het en vir ’n kort tyd in die polisie was, het hy op 38-jarige ouderdom by die Landboukollege in Potchefstroom begin studeer met net standerd 7 (nou gr. 9) agter sy naam. Hierna begin hy werk vir die staat en het vir meer as twintig jaar lank op meer as 500 plase in die voormalige tuislande wild uitgedun en skadebeheer toegepas.

Hy wys sy regterhand – tjoepstil en sonder enige teken van bewerigheid. Hy skryf sy gesondheid toe aan gereelde oefening en ’n gesonde dieet met melk, heuning en wildsvleis. “Daar is geen beter en gesonder vleis as wild nie,” het hy gesê.

Aan jagstories wat ’n mens se hare laat rys is daar nie ’n tekort nie: om ’n gekweste leeu in die bek te kyk toe sy geweer se meganisme vashaak of deur ’n moeras te hardloop toe ’n trop olifante storm en van die kraletjies wat ’n jong meisie om haar nek gehad het, wat in die pens van ’n 5m-lange krokodil gevind is, is enkeles.

Daar is min dinge wat hom van die jagveld kon weerhou. Skaars ’n maand nadat hy ’n groot operasie aan sy hand gehad het, met been wat uit sy heup verwyder is daarvoor, kom ’n geleentheid verby om ’n olifant in die Caprivi te gaan skiet wat moeilikheid by die statte veroorsaak. Dit was tydens die jare van die bosoorlog, vertel hy. Hy het nie op hom laat wag nie, en is met sy arm in gips en kruppel been vort. Wat gevolg het was ’n avontuur van kilometers in ’n viertrek-voertuig, wat boute langs die pad verloor. “Ons was meer as 80 km van Katima Mulilo in Namibië af en het gehoor ’n skoolhoof in die omgewing het ’n ‘spanner’ om die boute weer vas te draai. Ons het in die skoolgebou oornag en die volgende dag kilometers ver agter ‘n trop olifante so kruppel-kruppel deur moerasse afgelê voordat ons uiteindelik ’n grote met ’n kopskoot platgetrek het.”
Van Wyk het gedurende sy leeftyd talle wildspesies gejag – waarvan hy van elkeen noukeurig boek gehou het.

Hy het vier van die groot vyf gejag, maar nie ’n renoster of ’n seekoei geskiet nie.

Hy glo vas daaraan dat wanneer jy jag, jy nie mors nie. Soveel moontlik van elke dier moet gebruik word. Wat hy nie weggee nie, verwerk hy self, tot die laaste stukkie vleis.

Sy dogter Koti van Eck wat in Modimolle woon, is die afgelope jare ’n getroue jagmaat.

“Ons ry baie kilometers saam sodat hy kan gaan jag. So ruk gelede het ons Grootfontein in Namibië toe gemik waar hy koedoebulle en elande geskiet het. Ons het twee weke lank self vleis gewerk. Wors, biltong, kookvleis, niks word weggegooi nie. Hy kook tot die vleis van die bene af om bron van te maak,” het sy vertel. Hy het sy liefde vir die veld en jag aan haar oorgedra en sy lewer gereeld toesprake vir jagters wat die omgewing besoek. “Ek herinner hulle daaraan dat God ook in die jagveld is. ’n Mens moet respek en waardering hê vir die natuur – in ons besige lewens sien ons dit dikwels nie meer raak nie,” het sy vertel.

Die Bosveld, sê Van Wyk, bly sy gunsteling plek om te jag. En volgende jaar, wie weet, gaan hy nog ’n koedoe of twee skiet.

Related Articles

Back to top button