CrimeNews

Vermeende rowers vasgetrek

Die vinnige optrede van die polisie het gesorg dat twee verdagtes aangekeer is na ’n motorkaping en poging tot moord voorval op Maandag, 20 Mei.

Die twee vermeende rowers is ernstig gewond in ’n oor-en-weer skietery met die polisie en in hegtenis geneem.

’n Werknemer (35) van ’n myn by Northam het omstreeks 14:00 van diens af gegaan en op pad huis toe aan drie onbekende mans ’n saamry-geleentheid gegee. Kort hierna het die drie mans wapens te voorskyn gebring en die man se voertuig gekaap.

Die verdagtes het met hom gery in die rigting van Thabazimbi. Tussen Thabazimbi en Hoopdal het hulle by ’n T-aansluiting gestop en die man in die bos in gedwing waar hulle hom verskeie kere geskiet het en met sy motor op die vlug geslaan het.

Die ernstige beseerde man kon terug kom tot by die teerpad waar hy ’n motoris se aandag kon trek. Nooddienste het opgedaag en hom na die hospitaal geneem waar hy behandel is.

Die voertuig waarin die verdagtes gevlug het.

Nadat ’n saak van kaping en poging tot moord geopen is, het die polisie met ’n intense soektog begin na die verdagtes en die slagoffer se voertuig. Die voertuig is later positief geïdentifiseer waar dit om ongeveer 18:00 op die R101-pad buite Modimolle opgemerk is. Die polisie het gepoog om die verdagtes aan te keer, maar die verdagtes in die gekaapte voertuig het onverwags begin om op die polisie los te brand. Dit het ’n oor-en-weer skietery tot gevolg gehad.

Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en hul het die pad byster geraak en deur ’n heining geploeg. Twee verdagtes het te voet van die toneel af gevlug, en ’n derde verdagte, die 23 jarige bestuurder was in die voertuig vasgekeer met veelvuldige skietwonde. Hy is later onder polisie bewaking na die hospitaal vervoer vir behandeling. Die polisie het beslag gelê op ’n vuurwapen in die voertuig en die soektog het voortgeduur na die ander twee verdagtes.

Op Dinsdag, 21 Mei is ’n 24 jarige Zimbabwiese-burger deur lede van die plaaswag en die gemeenskap polisiërings forum (GPF) op ’n plaas in die Modimolle-omgewing vasgetrek. Hy kan moontlik met die voorval verbind word. Hy het ook ernstige skietwonde gehad wat waarskynlik in die jaagtog met die polisie die vorige aand opgedoen is. Hy is aan die polisie oorhandig, en onder bewaking na die hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Daar word verwag dat die twee verdagtes se saak in absentia in die Modimolle-landdroshof aangehoor sal word, terwyl hulle behandeling ondergaan. Hulle word aangekla vir besit van ’n gesteelde voertuig, twee klagtes van poging tot moord, en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Die soektog na die derde verdagte duur voort, en die polisie versoek enigeen met inligting om die ondersoekbeampte, AO. Phaladi Makola te kontak by tel. 082 749 2233 of die Stop Misdaad te skakel by tel. 08600 1011, MySAPSApp, of na hul naaste polisiestasie te gaan.

Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Back to top button