LifestyleLocal newsNews

Kyk, dit kan gedoen word sonder steroïede, sê sterkman

Jy kan net so goed presteer sonder dat jy die risiko neem om steroïede te gebruik. Groter is nié noodwendig beter nie!

Die hoeveelheid skoolkinders en jong sportlui wat staatmaak op steroïede om hul spiere groter te maak of hul prestasie op die sportveld te verbeter, is vir plaaslike sterkman, Koos Henning, ’n groot bron van kommer.

Henning, wat dekades reeds as gewigopteller presteer en ander sportlui afrig, sê dat jongmense, sowel as hul ouers, nie die skade wat hulle hulself aandoen met die gebruik van steroïede besef nie.

“Kinders is deesdae onder geweldige druk om te wen, selfs al speel hulle in die derde span. Hoeveel van skole-rugbyspelers gaan eendag vir die Springbokke speel? Daar word egter die indruk geskep dat steroïed-gebruik nodig is as jy wil presteer. Kinders, dikwels met die wete van hul ouers, spuit steroïede, maar besef nie die risiko nie. As jong man was ek deel van ’n span van ses wat deelgeneem het aan gewigoptelkompetisies. Net twee van ons het nie steroïede gebruik nie. Die ander vier is almal in hul dertigs oorlede. Dit het my laat besef hoe gevaarlik dit is.”

Steroïede-gebruik versteur die hormoonbalans in ’n mens se liggaam.

“Jou liggaam produseer nie meer self testosteroon nie, maar wel meer vroulike hormone,” het Henning gesê.

Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik, beïnvloed dit mans se spermtelling nadelig, kan vergrote borste veroorsaak asook dat hulle bles word en testikulêre kanker kry. Vroue se stemme word dieper, hul vel growwer, haargroei neem oor hul lyf toe, maar hulle kan ook bles word soos mans.

Steroïed-gebruik het ook ’n groot impak op die hart, wat ’n spier is. Daar is gereelde nuusberigte van bekende liggaamsbouers wat op ’n jong ouderdom dood is – dikwels aan hul harte. Steroïede kan bloedklonte veroorsaak volgens die Instituut vir Dwelmmisbruik, asook die verhoging van hoë bloeddruk en beroertes. Tieners bly dikwels kort van statuur. Dit het ook ’n impak op gebruikers se persoonlikheid en kan tot aggressie of depressie lei.

“Beserings is baie algemeen, want steroïed-gebruik vergroot die spiere, maar doen niks aan die ligamente nie. Ligamente kan slegs sterker word deur slim en harde oefening,” het Henning gesê.

“Dit maak jou nie vinniger en sterker nie, in teendeel dit belemmer jou plofkrag, wat belangrik is op die rugbyveld en sporte soos naellope, hoogspring, verspring, gewigoptel en swem,” het hy gesê.

“Kinders begin dikwels onskuldige aanvullings soos ’n proteïendrankie drink. Dit laat hulle egter glo dat hulle so iets nodig het om goed te presteer en sterk genoeg te word. Daar is niks in daardie drankies wat hulle nie in vleis, eiers en ’n gesonde dieet gaan kry nie.”

Die 67-jarige Henning het besluit om vanjaar jong sportlui te oortuig dat hulle net so goed kan presteer deur ’n gesonde lewensstyl en harde, toegewyde oefening te volg.

“Ek wil vanjaar weer ernstig deelneem en ’n prestasie van internasionale standaard lewer. Ek is bereid om op enige stadium van die proses getoets te word om seker te maak dat ek geen middels gebruik nie.”

Henning het ’n maand gelede vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie weer deelgeneem in die gewigoptel afdeling vir sestig en ouer en vir die wêreldmeesterskampioenskap wat in Finland gehou word, gekwalifiseer. Hy het met dié deelname drie Suid-Afrikaanse rekords gebreek. Henning het in vorige jare reeds vierde, vyfde en sesde plekke internasionaal in die sport beklee.

“Atlete wat staatmaak op ’n gesonde lewenswyse se loopbane en vermoë om aktief te wees, is aansienlik langer,” het dié 67-jarige gesê.

Henning nooi enige iemand uit wat betrokke wil raak by dié bewusmaking projek om hom te kontak by tel. 082 453 4294.

Related Articles

Back to top button