Local newsNews

Nuwe gevalle van snotsiekte aangemeld

Nog gevalle van snotsiekte het op plase buite Modimolle uitgebreek.

Die Pos het vroeër berig dat Leander Shepard, ’n buurman van Castle de Wildt wat in ’n hofgeding met die eienaar Gys Pitzer gewikkel is, nog ’n bees aan snotsiekte verloor het. Hy sê dat hy altesaam al 26 beeste verloor het. Tydens ’n vergadering wat boere in die omgewing op Dinsdag 7 Mei gehad het, is genoem dat daar nog twee bevestigde gevalle op nabygeleë plase was.

Boere is bekommerd oor die groot finansiële verliese wat die siekte, wat geen kuur het nie, meebring.

Deel van die onenigheid tussen die twee bure is omdat Pitzer volgens Shepard nie aan ’n hofbevel voldoen wat die hooggeregshof in Polokwane in Augustus aan Shepard toegestaan het nie. Luidens die bevel moet die blouwildebeeste agter ’n heining 100 m van sy grond af gehou word om die verspreiding van die siekte te keer en sy voerkraal moet verder van die grensdraad af geskuif word op Pitzer se onkostes.

Morne Mostert, Pitzer se prokureur, het aan Die Pos gesê dat die partye by die hof ’n skikking bereik het, in terme waarvan ’n bevel van die hof gemaak is.

“Een van die bepalings is dat ’n heining van 1,2 m hoog, van 10 drade, op Gedeelte 18 van die plaas gespan moet word. Die hei-ning is gespan en slegs op twee geleenthede het ’n enkele wildebees aan Shepherd se kant van die heining beland. Hy meld dat blouwildebeeste herhaaldelik deur die heining breek, terwyl twee voorvalle beswaarlik as herhaaldelik gedefinieer kan word,” het Mostert gesê. “Die laaste voorval was in Januarie 2024. In beide gevalle het Gys onmiddellik stappe geneem om die wildebeeste te verwyder. Hy het sover gegaan as om die heining na 12 drade toe te verhoog en sedertdien het nog nie een wildebees deur die draad gebreek nie.”

Hy trek ook die hoeveelheid beeste wat volgens Shepard aan snotsiekte gevrek het in twyfel.

Wat die skuif van die voerkrale aan betref, sê Mostert dat die skuif van die skuur nie deel van die ooreenkoms was nie. “Shepherd het sy plaas in 2017 vir R2,9 miljoen gekoop, en nou verwag hy dat Gys ’n skuur teen ’n koste van meer as R3,0 miljoen (in die koerantberig sê Shepherd dat dit R4,0 miljoen is) skuif. Buiten dat dit nie deel van die ooreenkoms was nie, is dit onredelik.”

Volgens Marinus van Jaarsveld, Shepherd se regsverteenwoordiger, is hulle besig om die minagtingsaansoek te finaliseer, waarna hulle hof toe sal gaan.
Wye probleem

Die stryd tussen beesboer en wildsboer is nie net plaaslik ’n probleem nie. Volgens Petrus van Heerden, wat op die ombudsraad vir die siekte ge-
dien het, woed die toutrekkery reeds langer as 30 jaar.

In terme van die Wet op Dieresiektes, Wet 35 van 1984 was dit ’n beheerde siekte en blouwildebeeste mag nie sonder die skriftelike toestemming van die boer se bure en die boerevereniging aangehou geword het nie. Die bewoording van die wet het egter in 1993 verander en dit het nie meer beheerde status gehad nie. Toestemming van bure en boereverenigings was dus nie meer nodig nie. Blouwildebeeste was daarna wyd op plase regoor die land gevestig.

Dit raak ’n geval van wat was eerste: die hoender of die eier.

Volgens Mostert word daar reeds sedert 2013 met eksotiese wild, onder andere verskeie variante wildebeeste, by Castle de Wildt geboer.

“In die reg is daar ’n beginsel ‘coming to the nuisance’,” het hy gesê. “Shepard se plaas is in Februarie 2018 geregistreer. Hy het geweet van die wildebeeste wat op Gedeeltes 16 en 18 aangehou word, tog het hy die grond langs-aan aangekoop, met die doel om ’n voerkraal vir onder meer beeste te bedryf. Hy moes tog van die risiko van snotsiekte bewus gewees het,” het Mostert gesê.

Terwyl die twee hulself hofwaarts wend om uitsluitsel te kry, loop beide bees- en wildsboere op eiers oor die snotsiekte wat beide se bedrywighede ontwrig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button