Editor's choiceLifestyleRecipes

Vroue leer meer van oorsprong van Chelsea-bolletjies

’n Koppie stomende koffie en ’n soet, verleidelike sagte broodjie. Wie sal dan kan nee sê vir so ’n lekkerny?

Dit blyk dat Chelsea-bolletjies reeds dekades lank ’n gunsteling onder lekkerbekke is, het die vroue van die Naboomspruit-Vrouelandbou-unie (VLU) tydens ’n onlangse vergadering gehoor.

Correlie van der Hout het die vroue op Dinsdag 9 April vertel van die interessante geskiedenis wat hierdie sagte broodrolletjie met sy rosyne en soet suikerlagie het.

Sy het vertel dat hierdiebroodrolletjies vir die eerste keer in die 1700’s by die ou, oorspronklike Chelsea Bun House in die weste van Londen in Engeland gebak is. Alhoewel die gebou nie meer bestaan nie, is daar ’n skildery daarvan deur Frederick Napoleon Shepherd in 1839 geskilder en hang in ’n Londense museum.

Die vroue van die Naboomspruit-VLU het meer omtrent die geskiedenis van die Chelsea-bolletjie gehoor.

Richard Hand, die bakkery se bekende eienaar, se bynaam was Captain Bun. Koninklikes en adellikes was gereelde besoekers. In sy boek, Curiosities of London, skryf John Timbs in 1885 dat koning George II saam met koningin Caroline en hulle prinsesse Hand dikwels besoek het. Hulle het vir sy vrou ’n silwer halfliter beker met vyf guinea-munte as geskenk gegee. Die koninklike beskerming het tot gevolg gehad dat die bakkery bekend geword as die Royal Bun House.

Bo en behalwe die koninklikes en digters, was die bolletjies net so gewild onder die werkersklas. Dit was die gebruik dat werkende mense op Goeie Vrydag, Chelsea- en Paasbolletjies by Chelsea Bun House koop.

Nog ’n interessantheid van daardie tyd is dat Chelsea-bolletjies nie op Sondae verkoop mag word nie. ’n Banketbakker is egter beboet omdat hy vir 25 jaar lank op Sondae die broodjies verkoop het aan mense wat op pad of teruggekeer het van die kerk af.

Jane Grigson, ’n Engelse kosskrywer, het verklaar dat hierdie taai en vierkantige korrentebroodjies die beste van alle broodjies is, vanweë hul smeltende, botteragtige soetheid. ’n Engelse digter het skoon liries geraak oor die Chelsea-bolletjies en die volgende gedig daaroor geskryf: Fragrant as honey and sweeter in taste! / As flaky and white as if baked by the light, / As the flesh of an infant soft, doughy and slight.

Nou sal mens wonder of die Chelsea-bolletjies kan kersvas hou met ons land se eie geurige mosbolletjie?

Related Articles

Back to top button