Local newsNews

Bekende skrywer dood in botsing

’n Groot botsing tussen ’n vragmotor en twee voertuie tussen Modimolle en Vaalwater op Maandagoggend 6 Mei, het die verkeer vir ure lank tot stilstand gedwing.

Volgens Thidimalo Chuene van die provinsiale departement van vervoer, het die bestuurder van ’n MAN-vragmotor beheer verloor en teen ’n Toyota Prado en ’n Ford Ranger gebots. Een persoon is dood en twee ander is beseer. Die ongeluk het net na 09:00 gebeur en die verkeer het net voor 14:00 eers weer gevloei.

Dit blyk dat die skrywer, prof. Maritha Snyman in die ongeluk oorlede is. Sy was blykbaar op pad na haar man, Braam, in Lephalale, toe die ongeluk gebeur het. Snyman was die skrywer van bekende kinderboeke soos “’n Annerste ABC-boek vir aspatatte”, die “Liewe Lawwe Lagboek”-reeks, en verskeie titels in die “Reënboogrant”-reeks. Snyman, mede-samesteller van “Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom”, was ook die voormalige uitvoerende hoof van LAPA Uitgewers.

’n Botsing op die R33-pad tussen Modimolle en Vaalwater het die lewe van die skrywer prof. Maritha Snyman geëis. Foto: verskaf

• Dinsdagoggend, 6 Mei, was die Bronkhorst-gesin van Modimolle ook betrokke in ’n motorongeluk terwyl hulle op pad was om hul kinders by die skool af te laai.

Die ongeluk het net voor 07:00 voor die Total-vulstasie gebeur. Volgens ooggetuies het ’n bakkie wat by die vulstasie stilgehou het en die Volkswagen Golf teen mekaar gebots. Nico en Helena Bronkhorst en hul kinders Kosie (15), Louise (18), Japie (14) en Nico junior (16) was in die voertuig. Ambulansdienste het vir Nico en van die kinders na die hospitaal toe vervoer.

’n Gesin is beseer nadat ’n bakkie teen hul motor gebots het net voor hulle kinders by die hoërskool afgelaai het.

“Nico is nog steeds by die hospitaal waar hulle besig is met toetse. Ons kon nog nie meer hoor oor sy beserings nie,”

het Helena Dinsdagoggend aan Die Pos gesê. Die bakkie het hul voertuig aan die bestuurder se kant getref. Die gesin was baie geskok na die voorval. Louise het ’n diep sny aan haar bo-lip en moes steke kry en het ook ’n sny oor haar wang en op haar bene. Die ander insittendes het snye aan hul heupe, rug en bene opgedoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button