CrimeLocal newsNews

Voetganger-ongeluk eis 7-jarige meisie

Nog ’n jong kind se lewe is kortstondig geknip in ’n ongeluk in Modimolle.

Die meisie, Sphesihle Khanyi (7) wat as Sihle bekend is onder haar familie en vriende, het op Dinsdag, 9 April net voor 15:00 van die skoolbussie afgeklim in Hans Campherstraat, toe sy voor ’n voertuig beland het.

Die ongeluk het enkele meter van haar huis gebeur. Sy is ’n gr. 2 leerder aan Lord Milner Primary School op Settlers.

’n Inwoner wat daar naby bly en anoniem wil bly, het die slag gehoor en was baie gou op die toneel. Sy het dadelik op die Waterberg Emergency-groep om hulp gevra en gesê dat mediese bystand dringend vereis word. Hulle het van hulle kant al die ander nooddienste ontbied.

Die bestuurder van die aankomende voertuig is ’n afgetrede vrou van die dorp. Haar naam is nog nie bekend nie. Beide sy en die busbestuurder het aan erge skok gely.

’n Privaat paramedikus en ’n lid van die GPF was binne minute op die toneel om basiese noodbehandeling toe te pas.

Die verkeersdepartement was ook gou daar om die verkeer te reguleer en om die omstanders weg te hou van die ongelukstoneel.

Sihle se ma, dr. Ngokoana Nkoana van FH Odendaal-hospitaal, het van die werk afgejaag toe sy van die ongeluk te hore gekom het. Omstanders het haar probeer kalmeer terwyl die noodwerkers van die ambulansdiens haar kind behandel het.

Sihle is na die FH Odendaal-hospitaal in die dorp vervoer en is enkel ure daarna oorlede.

Die Pos het met dr Nkoana op Woensdag, 10 April gepraat en sy het gesê: “My family is devastated.”

Sy het ook bevestig dat daar ’n ouer broer en suster in die gesin is wat nog nie kan glo wat gebeur het nie.

“We have not been able to come to terms with the fact that our sunshine girl is no longer with us. We still have to process what has happened.”

Alta Hitchcock, die skoolhoof van Lord Milner Primary School waar Sihle ’n leerder is het by navraag aan Die Pos gesê:

“Ons is bitter hartseer. Sy was ’n skrander kind en het gestrewe om net 7’s op haar rapport te kry. Sy was baie betrokke by die skool en sy was reeds van gr. R ’n leerder van Lord Milner. Ons as ’n skoolfamilie is diep geraak.”

Hitchcock sê hoewel sy gisteraand by die gesin in die hospitaal was om hul te ondersteun, kon sy sien dat die gesin erg getraumatiseerd is en kon hul nie met haar praat nie.

Die busbestuurder wie se naam nie bekend is nie, verskaf ’n busdiens aan leerders wat in Settlers-skole is.

Dit is ’n privaat busdiens en daar is na raming sowat 36 minibusse wat daagliks leerders na en van die skole vervoer.

Die kringbestuurder van Limpopo onderwysdepartement het reeds gisteraand bevestig dat daar vandag personeel beskikbaar is vir traumaberading by die skool.

  • Die hartseer voorval is die tweede hierdie jaar in Modimolle. Die Pos het in Maart berig oor die jong Mphonyana Molwantwa wat dood is nadat ‘n polisievoertuig hom op die R101 in Phagameng raakgekry het.

Related Articles

Back to top button