Local sportSchools

Spelers wys hope talent by gewilde Hansieweek

Die dertigste Mauritz Hansen-rugbyweek het op Maandag, 25 Maart by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, ten einde geloop. Die rugbyweek is gekenmerk deur uitstekende rugby en die 86-spanne het gesorg dat daar nie een vervelige oomblik was nie.

Die Hansie-masjien se ratte was seepglad geolie en hul het die duisende besoekers met ope arms ontvang. Uit verskeie bronne is lof ontvang vir die goeie organisasie en hartlikheid. So in die verby gaan het ’n ouer van Tzaneen opgemerk: “Julle sien ons volgende jaar weer, want hier is dit baie lekker”!

Van die spanne het so ver as Bellville in die Weskaap, Empangeni in KwaZulu-Natal en Kuruman in die Noordkaap gekom om te kom kers opsteek by van die rugbykenners en hul staal te kom wys dat hul bobaas rugby speel.

Die Hansies het vanjaar vier spanne in die finale wedstryde gehad, o.15A, o.16 A, tweedes bekend as die Bosvarke en die eerste span. Die Bosvarke het hulle wedstryd teen Hoërskool Ligbron met 25:7 gewen en Janco Abrahamse is as speler van die wedstryd aangewys. Die eerstes het hulle wedstryd teen Hoërskool Hugenote van Springs verloor met 26:10 en so tweede geëindig in die toernooi. Die o.15A-span het teen Merensky van Tzaneen 33:3 verloor en die o.16A-span verloor 20:7 teen Hoërskool Witteberg.

Die werkers agter die skerms was van vroeg tot laat besig om kos voor te berei en te sorg dat die spelers elke wedstryd skoon klere gehad het.

“Dit was weereens ’n voorreg om die Hansie-week aan te bied en ons is trots op elke speler, afrigter, spanbestuurder en ouer wat gesorg het dat die spel van rugby nog lank sal voortleef. Ons is dankbaar vir elke persoon wat hier was en ons Hansie-ouers, onderwysers en die borge wat hard gewerk het om dit ’n sukses te maak”, het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport gesê.

“Baie dankie vir die gemeenskap se ondersteuning. Ons is ongelooflik trots dat die Bosvarke die eerste keer in 18 jaar ’n Hansie-week trofee gewen het. Baie geluk aan my mede-afrigter, Naas Muller, en ons wil nog meer sulke trofeë verower in die toekoms. Die belangrikste is dat die week suksesvol afgehandel is,” het Rinus de Jager, hoof van die Hoërskool Hans Strijdom aan Die Pos gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button