Letters

Brief: Slang vang is nie ’n man se maat

"Die slang draai sy kop in die rigting van die man en spoeg hom in die oë."

Storiesoeker van Bela-Bela, skryf:

Die afgelope weke was daar verskeie berigte op sosiale media rakende onderonsies tussen mense en slange en dit het my laat dink aan die talle staaltjies met slange in ons kontrei.

Van my ervarings met slange sluit onder meer in: met ons intrek in ’n nuwe huis loop ek die aand in die donker kombuis toe en hoor ’n vreemde blaasgeluid. Groot was my verbasing toe dit ’n pofadder was wat hom knus in die kombuis kom tuismaak het en heftig kapsie maak omdat ek te naby aan hom verby geloop het. By ’n ander geleentheid het ek in my tuin gestap, toe ek ’n slang sien afpyl op ’n padda en die voor my oë verorber.

Ek kan van geluk spreek dat ek nog nie deur ’n slang gebyt is nie. ’n Goeie kennis van my het slange gevang, in ’n blik verseël en dan met die betroubare spoordiens van toe gestuur na ’n onderneming wat die slange gemelk het om serum te vervaardig.

Op die dorp waar hy gewoon het was nie ’n spoorwegstasie nie, maar wel ’n kantoor waar pakkies ingelewer kon word om met die spoorwegbus vervoer te word.

’n Middeljarige vrou het die kantoor beman en die blik vir versending ingeboek. Telkens wanneer sy ’n blik ontvang het, het sy versoek dat dit digby haar lessenaar geplaas word sodat dit vir haar gemaklik kon wees om die nodige versendingsdokumente daarop aan te bring.

Op ’n dag verneem sy by die afsender wat hy so gereeld in die blik versend? Toe sy hoor dat dit ’n giftige slang is het sy gevra dat dit dadelik so ver moontlik van  haar geplaas word – en dit duidelik gemaak dat die reël geld ook vir al die dae daarna.

By geleentheid is die kennis op pad iewers heen toe hy ’n slang oor die pad sien seil. Hy stop en vang die slang, hou dit  aan die stert vas en met ’n uitgestrekte arm bekyk hy die lengte van die slang.

Die slang draai sy kop in die rigting van die man en spoeg hom in die oë.

‘Wat doen jy toe?’ wil ek weet toe hy met bloedrooi oë by my aankom. Nonchalant is sy antwoord, dat hy die slang weggegooi het, sy oë in ’n dammetjie water vlak langs die pad uitgespoel het en toe weer na die slang gaan soek het.

By geleentheid kuier ek by dieselfde nou al berugte slangvanger. Sy laerskoolseun is ook in die geselskap.

Ek vra die man uit oor sy slangvangery. Die seun vertel van ’n groot slang wat kort tevore by die skool opgemerk is, ewe ergerlik roskam hy die seun omdat hy dan nie dadelik die slang gevang het en vir hom gebring het nie.

So is daar in die Bosveld baie slangstories van manne en vroue wat nie huiwer om ’n adder aan die stert te gryp nie. My raad is egter hou verby en laat kom ’n kenner.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button