Local news

Sportlui veg terug teen borskanker

Fondsinsamelings om gesinne te help om vir duur genetiese toetse te betaal om seldsame kankerselle te identifiseer, is in volle swang, ter nagedagtenis aan Marlene van Staden, die voormalige burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

’n Gholfdag ten bate van die Marlene van Staden Breast Cancer Awareness Foundation is op Vrydag, 8 Maart by die Koro Creek-gholf-landgoed in Modimolle gehou. Tien fietsryers het ook op Sondag, 10 Maart aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem om nóg fondse in te samel.

Dié fondse sal gebruik word om gesinne wat geraak word deur borskanker as gevolg van die BRCA-1 en 2-gene finansieel by te staan.

Die stigting is deur Van Staden se familie en vriende einde verlede jaar op die been gebring. Die doel daarvan is om borskankersterftes te verhoed deur die bewusmaking van die voordele wat genetiese toetsing inhou vir die behandeling van die oorerflike BRCA-1 en -2 gene.

Van Staden was onwetend die draer van die BRCA-1-geen. Sy is op die vroeë ouderdom van 42 jaar op 8 Junie verlede jaar aan borskanker oorlede.

Hoewel baie mense weet dat kanker algemeen is in hul families, weet hulle nie dat genetiese toetse antwoorde kan verskaf wat ernstige siekte en sterftes kan verhoed nie. ’n Familielid van Van Staden, dr. Marthinus Heystek, het tydens die stigting se bekendstelling gesê dat dit belangrik is dat diegene wat hoë risiko is, hulself laat toets.

“Dit is nie net vir jouself nie, maar ook vir jou kinders. Ek het laat toets, omdat ek besef het dat dit belangrik is dat my dogter en twee kleindogters weet of hulle hierdeur geraak kan word.”

Ná Van Staden se afsterwe het verskeie van haar familielede, hulself laat toets en besef hulle dra die BRCA-1-geen en moet voorkomend optree.

Mense wat positief toets vir die BRCA-1-geen se kans vir sekere vorme van kanker verhoog met 60% tot 80%.

Volgens Christie Fourie, Van Staden se suster, is die direkteure van die stigting baie dankbaar vir al die ondernemings en individue wat met hul betrokkenheid by die gholfdag gehelp het om die trustfonds te versterk sodat meer gesinne gehelp kan word om die toetse vroegtydig te laat doen.

Die stigting het ook op Saterdag, 9 Maart uitgereik na meer as ’n duisend vroue regoor die land wat die Gereformeerde Kerke se jaarlikse Sustersaamtrek by Castle de Wildt bygewoon het.

Die stigting se volgende gholfdag vind op Donderdag 10 Oktober plaas by die Woodhill-gholflandgoed in Pretoria.

Vir meer inligting rakende die stigting asook oorerflike kanker, besoek die webblad wwwangelm.org.za of die stigting se Facebookbladsy.

Navrae kan gerig word aan Dalene Vermaak by tel. 083 287 4144 of stuur ’n e-pos aan astoltz@angelm.org.za.

Related Articles

Back to top button