Local news

Klub steek hand uit en help behoeftiges

Almal mor oor die ekonomie wat af is en beursies wat leeg is.

Behoeftige gesinne en hulporganisasies soos Klub Helpmekaar in Modimolle voel óók die knyp. Volgens Stephan Kloppers, voorsitter van die organisasie, het hulle hul swakste Februarie tot dusver beleef. Ten spyte hiervan, sê hy, het hulle besluit om hul positiwiteit uit te leef in 2024.

Hulporganisasies soos hierdie speel ’n belangrike rol in die gemeenskap waar hulle arm gesinne ondersteun en probeer om hul op hul voete te help.

“Hier is baie nuwe mense in die dorp wat by ons kom aanklop om hulp. Van hulle kom van die stad af in die hoop dat hulle hier ’n lewe sal kan maak, of kom bly by familie,” het Kloppers gesê.

Hulle het veral tydens en ná die Covid-19-inperking’n styging in gesinne wat in nood verkeer gesien.

“Die dorp het egter min werksgeleenthede om hulle te bied. Baie mense wat Sassa-toelaes ontvang kan nie op daardie R2000 oorleef nie. Wanneer hulle klaar hul verblyf betaal het, is daar nie genoeg oor vir kos nie,” het Kloppers gesê.

Die klub moes ongelukkig hul ‘Borg ’n Kleuter-projek’, waar kleuters se skoolgelde betaal word, staak omdat hul finansies dit nie kon bybring nie.

Hulpbehoewende inwoners kan by die klub aansluit en ontvang klere en een keer ’n maand ’n kospakkie. Hul ledetal is tans 104 gesinne wat sowat 240 mense is. Die kospakkie bestaan onder andere uit basiese items soos koekmeel, pasta, pakkies sop, rys, suiker, tee, margarine, soja, geblikte groente en ook vleis wat getrou deur Meatrite geskenk word. Wanneer meer produkte beskikbaar is, word dit by die kospakkies gevoeg. Een keer ’n week kan lede ook aanklop en nog vleis ontvang en vars groente en vrugte indien daar beskikbaar is. Skoolkinders word ook van skoolklere en benodigdhede voorsien.

Die Kokanje-aftreeoord stuur die kos wat van hul middagetes oorbly aan die klub.

“Mense wat honger is kan tussen 12:00 en 13:00 by ons aanklop vir ’n gesonde bord gekookte kos,” het Kloppers gesê.

Die klub verwag van hul lede om vier dae ’n maand in hul winkel, wat tweedehandse klere en huisraad verkoop, te werk. Op dié dae kry hulle ’n bord kos en ook kos om saam te neem huis toe.

Die klub se winkel het ’n groot aandeel in hul oorlewing. Die tweedehandse items wat hier verkoop word, is in ’n goeie toestand.

“Ons ontvang skenkings uit die gemeenskap uit en van die klere is goeie kwaliteit, soms splinternuut. Ons sorteer die klere volgens kwaliteit en net die bestes word in die winkel verkoop,” het Kloppers gesê.

Pryse is R60 per item en R80 vir ’n stel klere. Die klere wat in ’n minder goeie toestand is word geskenk aan ’n bejaarde-sorgsentrum in Phagameng waar dit herstel word en weer vir hul doeleindes uitgedeel of verkoop word. Daar word ook klere, soms tot 300 sakke op ’n slag, aan ander welsynsorganisasies in Pretoria en buurdorpe geskenk. Daar is ook kombuisware, juwele en ander items te koop. Die inkomste wat uit die verkope gemaak word, word gebruik om die kospakkies se voorraad aan te koop.

Die klub het ook bokse met noodvoorraad in wat hulle aan gesinne kan verskaf soos in die geval van huisbrande.

“Ons bestuur die donasies wat aan ons gegee word baie streng en maak seker dit word reg aangewend. Ons finansiële state word ook jaarliks geoudit,” het Kloppers gesê. “Klub Helpmekaar het sedert sy stigting in 2000, baie verander, maar dien steeds die gemeenskap. Niemand word kos geweier nie.”

Die klub bedank elke inwoner en die sakelui wat hulle ondersteun en in staat stel om die behoeftiges in die gemeenskap by te staan.

Klub Helpmekaar is geleë in Van Riebeeckstraat 64, Modimolle. Vir meer inligting, skakel Kloppers by tel. 083 654 9568.

Related Articles

Back to top button