Local newsLocal sport

Jonk en oud geniet stap en samesyn

Gesinne, vriende, skoolkinders en selfs viervoetige troeteldiere het op Woensdag, 28 Februarie saamgestap tydens die gewilde Warrieloop.

Die organiseerders van Hoërskool Warmbad se tweede Warrieloop het met groot entoesiasme die deelnemers en besoekers laatmiddag verwelkom voordat jonk en oud die roete aangedurf het.

Die Warrieloop-projek is in 2023 geloods en was so gewild dat inwoners gevra het dit moet ’n gereelde instelling word. Die aantal inskrywings, sowat 253, het gewys dat inwoners honger is vir gemeenskaplike samekomste.

Die 5km-stap bied ’n ideale geleentheid vir almal om saam te kom en ’n positiewe bydrae aan die gemeenskap te lewer.

Die skoolhoof, Louis Cilliers, het sy dankbaarheid uitgespreek oor die gemeenskap se entoesiasme en deelname aan hierdie inisiatief. Hy het beklemtoon dat die doel van die Warrieloop is om die gemeenskap van Bela-Bela byeen te bring en in die proses betrokke te raak by liefdadigheidswerk.

Chené Swart en Mia is opgewonde om aan die Warrieloop deel te neem.

Die skool maak ’n bydrae aan Huis Tekna, met fondse wat hier gegenereer word. Die ander fondse word gebruik vir leerders in die koshuis wat uitdagings ondervind. Cilliers het beklemtoon dat die skoolterrein ’n plek is waar die gemeenskap altyd welkom is.

Jacques Snyman en Izandri Strachan is vasbeslote om die 5km te voltooi.

Hy het voorts gesê dat inwoners kan uitsien dat hierdie gebeurtenis elke kwartaal aangebied gaan word. Hy wou nog nie detail deel nie, maar het gesê dat daar belofte is vir ’n interessante roete in die toekoms.

Die skool het ’n sterk fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en het die Warrieloop as ’n geleentheid beskou om die gemeenskap bymekaar te kry.

Related Articles

Back to top button