CrimeNews

Boewe doenig in Mookgophong

Inbrekers het die afgelope twee weke verskeie plekke in en om Mookgophong geteiken en duisende rande se goedere is buit gemaak.

Op Vrydag 1 Maart ongeveer middernag, het die boewe by Andre Pienaar van Ilnika-gasteplaas, op die Constantia-pad, se werkers se huise ingebreek en alles wat in die yskaste was, gebuit.

“Van daar af het hulle my boorgate wat in die veld is, se bogrondse kabels afgesny,” het Pienaar gesê.

Dieselfde spore is ook op buurplase gevind maar geen van die goedere wat gebuit is is gevind nie en niemand is nog in die verband ondervra nie.

Op Saterdagaand 2 Maart tussen 19:00 en 20:00 is daar ook by OK Furniture in die dorp ingebreek en kontant is uit die kluis gesteel asook rekenaars en selfone.

Die AGS Bron-gemeente in Mookgophong.

In ’n ander voorval is daar by die AGS Bron-gemeente ingebreek in die vroeë oggendure van Sondag 3 Maart. Volgens inligting het die inbrekers by ’n venster aan die sykant van die kerk ingekom en het ongeveer R100 000 se klanktoestel gesteel en infrastruktuur beskadig.

“Hulle het ons wiele-asblik gebruik om die gesteelde goedere in te pak en kon die asblik verder rond trek om by al die luidsprekers en toerusting te kom,” het Su-lize Coetzer van die gemeente gesê.

Baie van die buit was ook kabels wat in die kerk gebruik is vir die klankstelsel. Die polisie het wel vingerafdrukke op ’n item wat in die badkamer geval het, gekry. Niemand is nog in hierdie verband ondervra of aangekeer nie. Die ondersoek duur voort.

Dieselfde aand is daar ook gepoog om by die NG Kerk in Mandela-rylaan in te breek maar die inbrekers is vermoedelik gesteur en het die aftog geblaas.

Die gemeenskap is weereens deur die plaaslike veiligheidsgroepe versoek om in te skakel by die gemeenskap se patrollies. Gedurende beurtkrag is daar nie genoeg voertuie en mannekrag om oral te patrolleer nie. Raak betrokke en stuit die inbrekers voor hul skade aanrig.

Kontak vir Kobus van Loggerenberg vir inligting rakende patrollies by tel. 061 176 0684.

Related Articles

Back to top button