Local news

VLU-vroue leer oor rooi granate se deugde

Die vroue van die Vroue Landbou-unie se Naboomspruittak het op Dinsdag, 13 Februarie hul kennis aangaande granate verbreed.

Karin Prinsloo, ’n sake- en boervrou van Mookgophong, het die VLU-vroue geleer dat die helderrooi vrug met sy rooi juweel pitte nie net ’n lekkerny is nie, maar dat die vrug ook baie gesondheidsvoordele inhou.

“Die VLU-vroue het die praatjie leersaam gevind en was verras met al die inligting rondom granate,” het Wendy Engelbrecht, voorsitter van die tak gesê.

Elkeen is ook bederf met ’n houer bevrore granaatsap asook resepte en wenke vir die gebruik daarvan.

Alhoewel die nederige granaat van ons grootword jare nou nuwe status gekry het en boonop peperduur is, is die voordele uit die vrug die koste werd. Die vrugte is volgepak met proteïene, vesel, vitamiene C, magnesium en kalium (potassium).

Wendy het vertel dat sy en haar man, Nicus, sedert 2012 op die familieplaas buite Mookgophong woon en het hul dadelik begin om granate aan te plant. Die bome is reeds etlike jare volgroei en dra goeie vrug. Hulle totale oes word op die plaas versap en word dan in daardie formaat verder versprei. Sy het aan Die Pos gesê dat hul 29 jaar gelede in Vryheid-distrik in KwaZulu- Natal geboer het maar nou tuis is in die Waterberg.

‘n Granaatboom (Punica granatum) is eintlik ’n struikagtige plant wat ongeveer 3- 5 m hoog word en dra helderrooi blomme en robynrooi vrugte. Die rooi blomme pryk van die lente tot die somer en dan volg die pragtige bolvormige, gelerige vrugte met die bloesende donkerpienk tot rooi wange in Januarie en Februarie.

Elke volgroeide boom, wat in volle produksie is, kan ongeveer 100 van dié robynrooi vrugte dra. Die verbouing van granate is baie arbeidsintensief en die vrugte moet met die hand gepluk en versigtig hanteer word sodat die kroon nie beskadig word nie. Die raklewe van ’n granaat is ongeveer drie maande en moet verkieslik teen 7⁰ Celsius gehou word.

Granate groei oral, maar verkies droë of semi-droë klimaatstreke met koel winters en warm somers. Hulle is bestand teen koue van tot -10 °C. Hoewel die plante gevoelig is vir ryp in die laatherfs en vroeë lente as hul blom, kan hul in hul dormante stadium wat in die winter is, die koue weerstaan omdat hulle bladwisselend is in sulke groei toestande.

Belangstellendes wat by die VLU wil aansluit, kan die skakelpersoon, Debbie Weideman kontak by tel. 082 775 6468.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button