Local news

Beeldskone oud-Hansie wil die Mevrou SA kroon dra

Mariska Schmidt, ’n oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, is op Dinsdag, 20 Februarie gekies as een van die semi-finaliste vir 2024 se Mevrou Suid-Afrika-kompetisie.

Sy woon tans in Pretoria, is getroud met haar hoërskool liefde, Christiaan Schmidt en is die ma van twee pragtige kinders.

“Vanjaar vier ons ook ons tiende huweliksherdenking,” het sy blinkoog aan Die Pos gesê.

Schmidt is ’n bestuurder vir ’n mediese firma in Johannesburg. Sy is passievol oor haar werk en wil graag ’n beduidende verskil maak in elke pasiënt se lewe.

Haar reis as skoonheidskoningin het op Vrydag 2 Februarie 2024 begin, tydens die kompetisie wat by Clearwater Mall in Roodepoort, Gauteng gehou is.

“Toe ek my naam hoor was dit ’n ongelooflike gevoel! Ek was regtig trots op myself en wat ek sover bereik het,” het sy vertel.

Die Dallmayr Mevrou Suid-Afrika is nie net ’n skoonheidskompetisie nie, maar ook ’n geleentheid waar vroue bemagtig word om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel. Die hoofdoel is om waardevolle vaardighede te leer soos leierskap, finansiële bestuur, kommunikasie en advertensies in die media te bestuur.

“Ons wil graag vroue uit hulle gemaksone neem sodat hul hulself kan herevalueer Sake soos wie jy is en wat jou doel in die lewe is. Ons help hulle om hul doel vas te stel, swakhede te oorkom en hul sterk punte aan te wend tot voordeel van hulself en andere,” het Joani Johnson, hoof uitvoerende beampte van die kompetisie, gesê.

Schmidt sê sy het die eerste keer van die skoonheidskompetisie gehoor toe Candice Abrahams, die eerste en enigste Suid-Afrikaanse vrou, beide die Mevrou Suid-Afrika en Mevrou Wêreld-kroon gewen het.

“Om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem was nog altyd een van my drome en vanjaar het ek besluit om in te skryf. Ek wou nog altyd my gemeenskap en sy mense bemagtig en bemoedig. Ons almal het die Jesus vlammetjie in ons diep binneste, ons moet net weer dit wat die vlammetjie laat brand, herontdek,” het sy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button