Local newsMunicipalNews

Verkiesingstryd: Cloete in spervuur

Soos in ’n verkiesingsjaar verwag kan word, het die vonke reeds begin spat in politieke kringe in Bela-Bela.

In die spervuur is Vryheidsfront Plus (VF Plus)-raadslid van Wyk 1, Jee-Dee Cloete. Dit gons op sosiale media dat hy aangekla word van wyksbakens wat hy oortree het.

Cloete het Woensdagoggend op Die Pos se navrae oor die polemiek wat nou oor sy kop losgebars het, gereageer.

Advertensie

Hy het telefonies aan Die Pos vertel, dat die speaker, Nelly Zikhali, hom Dinsdag in die gange van die munisipaliteit raakgeloop het en toe informeel meegedeel het dat daar drie klagtes teen hom ingedien is. Die klaers is almal inwoners van Wyk 1 en dit is bevestig dat dit nie die ANC-wyksraadslid van Wyk 6 is wat die klagte ingedien het nie.

Die klagtes wat nou voor die raad moet dien kom daarop neer dat Cloete teen die wil van die inwoners in Wyk 6 (Bospoort) inmeng. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die huidige raadslid, Jeremiah Ngobeni (ANC) se pligte wil oorneem.

’n Ander klagte lui dat Cloete te veel sosiale media groepe bestuur en dat hy ook twee van die klaers kwaadwillig van die groepe verwyder het. ’n Verdere klagte is dat ’n klaer van die Sanral-groep verwyder is, wat aan grondeienaars langs die R516 inligting moet verskaf oor die verwagte padwerke wat binnekort op die R516 gaan begin.

Cloete het sy argwaan uitgespreek en daarop gewys dat sekere opposisie partye so kort voor die nasionale verkiesing nie hul voetwerk in plek kry nie en hulle wil hom nou in ’n slegte lig stel. Hy het ook genoem dat hy en rdl. Ngobeni ’n goeie werksverhouding het en dat daar geen kwade gevoelens tussen hulle is nie.

Hy het aan Die Pos gesê sedert die klagtes rugbaar geword het, het hy groot steun vanuit die gemeenskap ontvang.

Die Pos het met druktyd nog nie kommentaar van die ander partye gekry nie en sal oor die verloop van gebeure verslag doen.

Related Articles

Back to top button