Local sportSport

Duisende stroom in om rugby te kyk

Duisende rugby-entoesiaste het Vrydagmiddag, 16 Februarie reggeskuif op Hoërskool Nylstroom se pawiljoene vir die gróót rugby.

Die Vodacom Bulls XV het die Valke gepak in die IBG Cup-uitdaging en in die voorwedstryd het die Nylstroom-rugbyklub die Naka Bulle XV die stryd aangesê.

Dit is die eerste keer dat ’n professionele wedstryd in die omgewing gespeel word en Waterberg-inwoners het in groot getalle opgedaag om goeie rugby te geniet – sommer op hul voorstoep.

Foto’s bo en onder: Die Naka Bulle wen die Nylstroom-rugbyklub, oftewel die Tiere, met 32 – 25. Foto: Facebook/ Hoërskool Nylstroom

Die Nylstroom-rugbyklub het dit nie vir die Naka Bulle maklik gemaak nie, maar die Bulle het uiteindelik 32-25 gewen.

“Dit was die klub se eerste wedstryd van die seisoen gewees en ons besef ons moet aan ons fiksheid werk. Die spelers was verskriklik opgewonde. Vir baie van hulle is dit die eerste keer dat hulle voor soveel toeskouers speel,” het Jannie Venter, hul afrigter en een van die organiseerders van die dag gesê.

Die Bulle XV het die Valke 45 – 14 gewen met toeskouers wat die spanne al jillende aangemoedig het.

Daar was na raming sowat 4500 toeskouers.

Die manne op die reserwebank van die Nylstroom-rugbyklub sit reg om op te draf wanneer nodig. Die pawiljoene by Hoërskool Nylstroom was vol toeskouers. Foto: Facebook/ Hoërskool Nylstroom

“Groot dank aan elke ondersteuner, nie net van hier nie, maar ook die buurdorpe, wat die dag kom ondersteun het. Dankie ook aan al die borge wat gehelp het dat ons hierdie byeenkoms suksesvol kon aanbied,” het Venter gesê.

Dié byeenkoms, sê Venter, het die deur oopgemaak vir groot planne in die komende jaar met die IBG Cup wat moontlik gaan uitbrei. Willem Strauss, president van die Blou Bulle, het beaam dat Waterbergers in die toekoms weer kan uitsien na ’n soortgelyke geleentheid.

“Die dag was ’n groot sukses. Jan Wiegand, president van die Valke, het my ook laat weet dat die dag iets besonders was,” het Strauss gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button