CrimeNews

Crecy-boere kry patrollievoertuig

Weens die landswye toename van veediefstal en plaasaanvalle, het die boere in die Crecy-omgewing ’n bekende motorhandelaar in Mookgophong genader om te help om ’n patrollievoertuig te bekom.

Volgens Floris Booysen, voorsitter van Crecy Boerevereniging, was die Venter Familiegroep, wat die eienaars van Naboom Toyota is, meer as bereid om te help en het hulle besluit om ’n bakkie te skenk sodat die gebied elke dag gepatrolleer kan word.

Scorpion Sekuriteit sal die gebied snags patrolleer asook bystand verleen indien daar enige reaksie nodig is. Verskeie ander borge het ook toegetree om die boere se veiligheid te verbeter.

“Ons het ’n noue band met die boere in die omgewing en dit was vir ons ’n voorreg om deel te wees van die projek om ons boere veilig te hou en so ook voedselproduksie te kan verbeter,” het Anton Venter gesê.

“Hierdie is ’n gemeenskapsprojek en raak ’n groot gebied wat bykans 51 000 hektaar dek. Die patrollie sal ongeveer 250 km op ’n roete ry. Die beplanning is om verder uit te brei sodat ’n groter gebied hierby kan baat. Dit sal vergroot tot ongeveer 60 000 hektaar,” het Booysen gesê.

Die patrollievoertuig sal veral gedurende die nag aktief wees, maar die patrollie sal 24 uur aan diens wees. Daar sal voortdurend radio- en selfoonverbinding wees tussen die patrollie, boere en die DLU landelike veiligheid se noodkanaal. Die veiligheidskamerastelsel in die gebied sal ondersteuning gee aan die projek en Booysen het alle boere in die omgewing versoek om deel te word van die netwerk.

Daar is tans ook ’n projek geloods om ’n nuwe kamera op te rig by die T-aansluiting van die R101/Constantia- teerpad. Die kamerastelsel wat reeds in werking is, is ’n baie groot aanwins om misdaad te bekamp. Elke sake-onderneming en individu in die nabye omgewing waar die kameras geïnstalleer is het meer gemoedsrus dat verdagte aktiwiteite dadelik opgevolg word.

Die nuwe kamera sal die R101 sowel as die Constantia-teerpad beskerm en dek die toegangsroete van daardie omgewing. Die gemeenskap is versoek om ’n bydrae te maak sodat die nodige toerusting gekoop kan word.

“Saam kan ons ’n verskil maak om misdaad te bekamp en elkeen se bydrae, hoe groot of klein kan help om ons doelwit te bereik,” het hy namens die Potgietersrus DLU gesê.

Kontak Renita Prinsloo vir enige bydraes by tel. 072 593 3278.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button