Local newsNews

Tragiese ongeluk eis drie jong lewens

’n Tragedie het afgespeel waarin drie tienerseuns die afgelope week gesterf het na ’n motorongeluk op die R510-pad naby die Welgevonden-wildreservaat se hek tussen Lephalale en Vaalwater.

Die ongeluk het Sondag 14 Januarie kort na 16:00 plaasgevind nadat ’n Toyota Land Cruiser-stasiewa omgeslaan het. Volgens Tidimalo Chuene van Limpopo se departement van vervoer, is twee seuns op die toneel dood. Twee passasiers wat ernstig beseer is, is volgens haar na die Lephalale provinsiale hospitaal geneem. Die Pos het verneem dat een van die seuns in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Die bestuurder en drie ander passasiers het ligte beserings opgedoen, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bepaal nie.

Die seuns was op pad terug Kaap toe nadat hulle die Kalahari Vasbyt-avontuurkamp meegemaak het. Die groep het die oggend vanaf die Khama Rhino Sanctuary in Botswana vertrek en nadat hulle ’n uur in Lephalale gestop het, vertrek op pad na die Klein-Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela, waar hulle die toer sou afsluit. Die kursus het begin by die Victoria-valle, deur Moremi-oorgrenspark en die Kalahari en eindig in Bela-Bela.

’n Noodlottige ongeluk waarin drie seuns oorlede is, het Sondag laatmiddag op die R510 buite Lephalale gebeur. Foto verskaf

Andries Erwee, die toerleier en organiseerder van die Kalahari Vasbyt, het die volgende plasing op Facebook gemaak: “Vriende, Jean Conradie van Somerset-Wes, Daniël Jordaan van Somerset-Wes en Werner Oosthuizen van Australië, wat almal 16 jaar oud is, is oorlede. Alle ander seuns is ontslaan. Pieter Marais, die bestuurder van die voertuig, word steeds vir erge skok in die hospitaal behandel.” Erwee het gesê dat hyself, sowel as die kinders en hul ouers aan erge skok ly.

Erwee se dogter, Ronell Erwee, het aan Die Pos gesê dat die groep in ’n konvooi van vier voertuie gery het.

Daniël Jordaan.

“Elke voertuig is toegerus met ’n radio. Een van die seuns in die voertuig wat tweede laaste gery het, het my pa oor die radio geroep toe die agterste voertuig omslaan. My pa het dadelik omgedraai en was eerste op die toneel.”

Volgens Erwee was die polisie baie vinnig daar gewees om te help. Die nooddienste het langer geneem om op te daag, maar was baie professioneel en het die getraumatiseerde kinders baie mooi behandel.

Jean Conradie.

“Hulle het hulle dadelik eenkant toe geneem sodat hulle nie die beseerdes sien nie en het die voertuig wat omgeslaan het met ander voertuie afgesper,” het sy gesê. “Hierdie is ’n baie groot hartseer vir my pa. Hy vorm hegte bande met die kinders en behou lank na die kampe steeds kontak met hulle en bel op hul verjaardae. In die 37 jaar wat hy hierdie kampe aanbied, is dit die eerste keer dat so iets gebeur. Ons harte is bitter seer saam met die kinders en hul ouers.”

Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch het in ’n huldeblyk vir Daniël Jordaan op hul Facebook-bladsy hul meegevoel aan sy familie, vriende en geliefdes betuig.

Die Hoërskool Parel Vallei het Jean Conradie beskryf as ’n topstudent wat altyd sy kant gebring het, ’n stil, sterk en opregte seun.

Die Peel United-sportsklub in Mandurah, Australia skryf dat almal Werner Oosthuizen gerespekteer het en dat hy ’n toegewyde spanmaat was wat altyd met sy hele hart gespeel het met ’n groot glimlag op sy gesig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button