Local news

Bekende sakeman van Bela-Bela oorlede

Dit is met leedwese dat inwoners van Bela-Bela op Sondag 14 Januarie verneem het van die afsterwe van Eben Esterhuizen (56), eienaar van die Rondevue-ini-bos-natuurreservaat en restaurant net buite die dorp. Esterhuizen is na ’n kort siekbed oorlede.

Hy het sowat drie jaar gelede van Pretoria waar hy ’n farmaseutiese maatskappy gehad het, na Bela-Bela verhuis en op Rondevue-ini-bos kon hy sy passie vir diere uitleef. Besoekers aan dié gewilde eetplek weet van die talle diere wat hy daar met deernis versorg het. Hy het ’n natuurlike aanleg gehad om gaste baie gou spesiaal en op hul gemak te laat voel en was ’n groot aanwins vir die gasvryheidsbedryf.

Van sy personeel sê hul sal sy breë glimlag altyd onthou. Hy was ’n sagmoedige mens en het werklik ’n omgee-persoonlikheid gehad. Eben was baie spitsvondig en het altyd ’n grappie gehad om te deel.

Sy suster, Mariette Ehlers, het hom beskryf as ’n man met ’n hart van goud, ’n eienskap wat sy dierbares vir altyd sal koester.

Eben se gedenkdiens sal op Saterdag, 20 Januarie om 14:00 plaasvind by Rondevue-ini-bos, ’n Plek waar sy gees voortleef. In ooreenstemming met sy wense, bly die deure van Rondevue-inibos oop en gaan die sakeonderneming voort soos normaal – ’n ware weerspieëling van sy lewensfilosofie.

Mag sy nalatenskap voortleef in die harte van die gene wat hom geken het. Ons deel in die rou van sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button