Crime

Vakansiedrome aan skerwe ná beweerde skelmstreek

’n Vermeende swendelaar is aangekeer ná talle klagtes teen die reisagentskap Priority Escapes en sy besturende direkteur Francois Swart gemaak is.

Twee inwoners van Modimolle is glo onder die talle mense wat hul droomvakansies in die Maldives kwyt is nadat hulle reeds ten volle of deposito’s aan die agentskap betaal het.

Pamela-Anne Dolan en Bugs van Heerden, wat op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle woon, het ’n saak by die Modimolle-polisie geopen en hulself daarna na AfriForum se private vervolgingseenheid gewend toe hulle besef dat hulle vermoedelik bedrieg is.

Swart het op Donderdag 28 Desember in die landdroshof in Modimolle verskyn en is op borgtog vrygelaat. Hy het homself aan die polisie oorhandig, nadat daar ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is. Hy sal weer op Vrydag 23 Februarie verskyn.

Volgens Dolan was hulle aanvanklik houtgerus, omdat hulle vantevore van Priority Escapes gebruik gemaak het toe hulle Maldives in Oktober 2022 besoek het.

“Ons het so ’n fantastiese vakansie gehad dat ons besluit het ons wil weer soontoe gaan. Ons het in November 2022 weer deur die agentskap bespreek vir ’n besoek in Oktober 2023. Ons het selfs besluit om ons vakansie na twee weke te verleng. Ons het betaal en bewyse ontvang dat die verblyf en vlugte se besprekings gedoen is,” het sy gesê.

In September verlede jaar het hul ’n ontstellende e-pos van Swart ontvang, wat lui:

“Dit is met diepe spyt dat ek julle in kennis moet stel dat ons nie meer in ’n posisie is om ons finansiële verpligtinge teenoor ons kliënte en diensverskaffers na te kom nie. Ons het geen ander opsie nie as om met onmiddellike effek op te hou handel dryf. Dit sal ongelukkig ’n effek hê op julle komende vakansie wat nie meer sal kan plaas vind nie. Ons vra opreg om verskoning.”

Hulle het onmiddellik die oord en lugredery geskakel, maar moes hoor dat hulle geen betalings ontvang het nie. Die lugredery het gesê dat hulle lank reeds nie meer vlugte vir Priority Escapes bespreek nie.

“Ons aanvaar dat ons ons geld kwyt is. Ons het besluit om ’n saak by die polisie te open om ook geregtigheid te kry vir al die ander mense wat deurgeloop het, want daar was mense wat gestrand was en verdere kostes moes aangaan, pasgetroudes wat nooit op vakansie kon gaan nie en ’n vrou wat terminaal siek is wat graag die eiland wou besoek voordat sy sterf,” het Dolan gesê.

Dolan raai mense aan om seker te maak dat wanneer hulle deur ’n reisagentskap bespreek, die agentskap geregistreerd is by organisasies soos die Vereniging van Reisagente in Suid-Afrika (Asata).

“Agentskappe bied dikwels beter pryse aan as wanneer ’n mens self die bespreking doen. Ons het verkies om deur een te werk omdat dit soveel makliker was en hulle ’n direkte vlug soontoe aangebied het. Dit was ’n duur les gewees,” het sy gesê.

Volgens die ondersoekbeampte, AO. Gawie Greeff, verskyn Swart op een klag van bedrog in Modimolle. Die Valke is ook glo besig om nog klagtes teen hom te ondersoek, met talle ander klaers wat ook na vore gekom het.


Lees ook: Twee hul vakansie en geld kwyt ná beweerde skelmstreek

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button