Schools

Warrie-groentjies klaar tuis

Die afgelope naweek het Hoërskool Warmbad se nuwe gr. 8-leerders ’n onvergeetlike ervaring beleef toe hul as nuwelinge deur die skool verwelkom is.

Die organiseerders het van Vrydag 12 Januarie tot Sondag 14 Januarie die nuwelinge op die skoolterrein besig gehou. Selfs die reën wat geval het kon nie die Warrie-leerders se geesdrif demp nie. Danielle Prins (onderwyser) wat aan die hoof gestaan het van die reëlings het aan Die Pos gesê dat die nuwe gr. 8-leerders gou ingeskakel het en hul entoesiasme wys dat hul hierdie jaar die grense gaan verskuif.

Die leerders het aktief deelgeneem aan verskeie aktiwiteite, insluitend boeresport waar almal met geesdrif aan deelgeneem het en ook hul uitvoerende kunstalente afgestof deur ’n program saam te stel vir die gr.8-konsert wat vroeg in Februarie plaasvind. Prins het uitgewys dat die groep ’n sterk eenheid is, met baie potensiaal. “Daar is ook ’n paar sterk leiers onder hulle wat die span saambring en positief beïnvloed,” het sy aan Die Pos gesê.

Die Warries se hoofmeisie vir 2024, Karli Brooker, het haar entoesiasme oor die kamp gedeel en dit as ’n waardevolle belewenis beskryf. Sy het die geleentheid verwelkom om die nuwe gr. 8-leerders beter te leer ken en hulle in die skoolkultuur in te lei voordat die besige akademiese jaar afskop. Karli het benadruk dat elke leerder nie bloot ’n nommer is nie, maar ’n waardevolle deel van die Hoërskool Warmbad-familie is.

Sy het met ’n glimlag vertel dat die groentjies se opgewondenheid aansteeklik was toe hul ’n begeleide toer van die skool en die sportgronde onderneem het. Hulle het uitgesien om in die toekoms die Warrie-kultuur uit te dra.

“Ek kon in hul oë sien dat hulle uitsien om hul skoolloopbaan by Hoërskool Warmbad te begin en te voltooi,” het sy opgemerk.

Martiens van der Westhuizen wat sy hoërskoolloopbaan begin, sê dat hy die lantern-bekruip die meeste geniet het. Hy sê die eier waarmee hul gesmeer was en die feit dat hul natgereën het was deel van die pret. Hy praat met opwinding van die nuwe begin en vriende wat hy gaan maak en sien uit om in die Warries se aktiwiteite te deel.

Die gr. 8-kamp van Hoërskool Warmbad het nie net ’n positiewe impak op die nuwe leerders van Hoërskool Warmbad gehad nie, maar dit het ook vriendskapsbande verstewig en die Warrie-eenheid is versterk. Hierdie kamp het die fondasie gelê vir die begin van ’n suksesvolle skooljaar.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button