Local news

Tragiese ongeluk eis drie jong lewens

’n Tragedie het afgespeel nadat drie 16-jarige seuns dood is in ’n motorongeluk op die R510-pad naby die Welgevonden-wildreservaat se hek tussen Lephalale en Vaalwater.

Die ongeluk het Sondag 14 Januarie kort na 16:00 plaasgevind nadat die Toyota-nutsvoertuig omgeslaan het. Volgens Tidimalo Chuene van Limpopo se departement van vervoer, is twee seuns op die toneel dood. Twee passasiers wat ernstig beseer is, is volgens haar na die Lephalale provinsiale hospitaal geneem. Die Pos het verneem dat een van die seuns in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Die bestuurder en drie ander passasiers het ligte beserings opgedoen. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bepaal nie.

Bo: Daniël Jordaan, ’n leerling aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Foto: Facebook

Andries Erwee, wat die toerleier is, het die volgende plasing op Facebook gemaak: “Vriende, Jean Conradie van Somerset-Wes, Daniël Jordaan van Somerset-Wes en Werner Oosthuizen van Freemantle in Australië, was almal 16 jaar oud en is oorlede. Alle ander seuns is ontslaan. Pieter Marais, die bestuurder, word steeds vir erge skok in die hospitaal behandel.” Erwee het gesê dat hyself, sowel as die kinders en hul ouers aan erge skok ly.

Die seuns was deel van ’n groep jongmense wat aan die Kalahari Vasbyt-avontuurkamp deelgeneem het en was op pad terug huis toe, toe die ongeluk gebeur het. Volgens die Kalahari Vasbyt se Facebook-bladsy, leer die kamp sestienjariges hoe om opwindende uitdagings in die natuur aan te pak in Botswana, Namibië en Zimbabwe.

Die skool Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch het ook ’n huldeblyk vir Daniël Jordaan op hul Facebook-bladsy geplaas.

Die Pos sal verder berig in hierdie week se uitgawe.

Related Articles

Back to top button