Crime

Twee hul vakansie en geld kwyt ná beweerde skelmstreek

’n Vermeende swendelaar is agter tralies ná talle klagtes teen die reisagentskap Priority Escapes en sy besturende direkteur Francois Swart gemaak is.

Twee inwoners van Modimolle is onder die talle mense wat hul droomvakansies in die Maldives kwyt is nadat hulle reeds ten volle of deposito’s aan die agentskap glo betaal het.

Pamela-Anne Dolan en Bugs van Heerden, wat op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle woon, het ’n saak by die Modimolle-polisie geopen en hulself daarna na Afriforum se private vervolgingseenheid gewend toe hulle besef dat hulle vermoedelik bedrieg is.

Swart het op Donderdag 28 Desember in die landdroshof in Modimolle verskyn en is op borgtog vrygelaat. Hy het homself aan die polisie oorhandig, nadat daar ’n lasbrief vir sy in hegtenisname uitgereik is. Hy sal weer op Vrydag 23 Februarie verskyn.

Volgens Dolan was hulle aanvanklik houtgerus, omdat hulle vantevore van Priority Escapes gebruik gemaak het toe hulle Maldives in Oktober 2022 besoek het.

“Ons het so ’n fantastiese tyd gehad dat ons besluit het dat ons weer soontoe wil gaan. Ons het in November 2022 weer deur hulle bespreek om Maldives in Oktober 2023 te besoek, maar ons het ons vakansie dié keer na twee weke toe verleng. Ons het betaal en bewyse ontvang dat die verblyf en vlugte se besprekings gemaak is,” het sy gesê.

In September verlede jaar ontvang hulle egter ’n ontstellende epos van Swart wat lui:

“Dit is met diepe spyt dat ek julle in kennis moet stel dat ons nie meer in ’n posisie is om ons finansiële verpligtinge teenoor ons kliënte en diensverskaffers na te kom nie. Ons het geen ander opsie nie as om met onmiddellike effek op te hou handel dryf nie. Dit sal ongelukkig ’n effek hê op julle komende vakansie wat nie meer sal kan plaasvind nie. Ons vra opreg om verskoning.”

Hulle het onmiddellik die oord en lugredery geskakel, maar moes hoor dat hulle geen betalings ontvang het nie. Die lugredery het gesê dat hulle lank reeds nie meer vlugte vir Priority Escapes doen nie.

“Ons aanvaar dat ons ons geld kwyt is. Ons het besluit om ’n saak by die polisie te open om ook geregtigheid te kry vir al die ander mense wat glo deurgeloop is, want daar was mense wat gestrand was en verdere kostes moes aangaan, pasgetroudes wat nooit op vakansie kon gaan nie en ’n vrou wat terminaal siek is wat graag die eiland wou besoek voordat sy sterf,” het Dolan gesê.

Dolan raai mense aan om seker te maak dat wanneer hulle deur ’n reisagentskap bespreek, hulle geregistreerd is by organisasies soos die Vereniging van Reisagente in Suid-Afrika (Asata).

“Agentskappe bied dikwels beter pryse aan as wanneer ’n mens self bespreek. Ons het verkies om deur een te werk omdat dit soveel eenvoudiger was en hulle ’n direkte vlug soontoe aangebied het. Dit was ’n dure les gewees,” het sy gesê.

Volgens die ondersoekbeampte, AO. Gawie Greeff, verskyn Swart op een klag van bedrog in Modimolle. Die Valke is ook glo besig om nog klagtes teen hom te ondersoek, met talle ander klaers wat ook na vore gekom het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button