Local news

Dorp groet merkwaardige vrou

Inwoners van Bela-Bela sal die fyngeboude vrou in haar oefenklere teen Fish Eagle Bay se bult altyd onthou. Sy het altyd vriendelik en met ’n breë glimlag gewuif.

Minnie Oosthuizen (65) het op Dinsdag 2 Januarie na haar Hemelse Vader se woning verhuis. Sy het die afgelope drie en ’n half jaar moedig teen ovariakanker gestry en het chemoterapie en bestraling ontvang, maar die kanker het desondanks versprei. Sy het die oggend van haar dood vreedsaam met haar hand in dié van haar man gesterf terwyl hy en hulle dogter vir haar lofliedere gesing het op pad na ’n hospitaal in Pretoria.

Minnie en haar man, Tjaart, was ’n bekende gesig in die dorp. Hulle het saam geoefen en dikwels ook dieselfde kleur T-hemde gedra terwyl hulle draf.

Minnie Oosthuizen.

’n Aangedane Tjaart het die afgelope week in ’n onderhoud met Die Pos gesê Minnie was die mees besondere “mensie, maatjie, kameraad en tjommie”.

Datums en die viering van besondere mylpale was vir hulle belangrik daarom weet hy presies hoe lank hulle getroud was: 42 jaar, nege maande en vyf dae.

Minnie was ’n vrou met ’n ruim hart en ’n oop hand vir die gemeenskap. Volgens Tjaart het sy vrou dikwels sêgoed gebruik soos: “Kom ons pluk die dag — Carpe Diem” of “Life is not about waiting for the storm to pass — it is about dancing in the rain” en ook “Kom ons probeer om vandag ’n verskil te maak.”

Skoolmaats van hulle twee kinders het dikwels gesê dit was lekker om in dieselfde span as hulle te wees, want “tannie Minnie bederf altyd die hele span”.

Hierdie fyn vrou met haar onwrikbare geloof was ’n toonbeeld van uithouvermoë. Volgens Tjaart was sy die ware weergawe van iemand met “guts” en het sy vir die eerste keer saam met hom om die blok gehardloop ná haar 40ste verjaarsdag. Daarna het sy op 46-jarige ouderdom haar eerste Comrades-ultramarathon voltooi en het hulle nog tien suksesvolle kere aan die Comrades deelgeneem. Die Covid-19-pandemie het verdere deelname gestuit.

Minnie was tot kort voor haar dood betrokke by die familieonderneming Tjaart Oosthuizen en kie Geoktrooieerde Rekenmeesters waar sy volgens haar man “die hart van die onderneming” was.

Sy het graag aan familie en vriende Psalm 16:6 voorgehou: Sy meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval. Sy erfenis is vir my mooi.”

Haar gedenkdiens is die afgelope Woensdag by die onderneming se kantoor gehou. Volgens Tjaart is hulle harte stukkend oor Minnie, maar hulle sal soos sy enduit saam bely:

“Die Here is my herder. Niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê by groen weivelde. Na waters waar rus is lei Hy my heen.”

Sy word ook oorleef deur haar twee kinders en hul gesinne: Selmari en Brendan Quinn en Tjaart jnr. en Adel Oosthuizen, asook vier kleinkinders.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button