BusinessLifestyle

Só kan lesers hul Januarie-rande effens rek

Januarie se lang slagtande byt hard in talle mense se maer beursies in.

Nie net is daar die uitgawes wat ’n nuwe skooljaar bring nie, maar die verhoogde rentekoerse veroorsaak steeds pyn met die betaling van huis- en motorpaaiemente.

Die inflasie op kospryse maak dat daardie trollies in die supermark ekstra swaar voel wanneer ’n mens inkopies doen. Die prentjie wat kenners skets vir die plaaslike én internasionale ekonomie, lyk nie te rooskleurig nie en dit lyk nie asof verligting gou gaan kom nie.

Wat staan ’n mens dan te doen om jou begroting te laat klop? Die Pos het gaan rondvra en hier is van die inwoners se raad:

Stel ’n begroting op sodat jy presies weet hoeveel geld inkom en hoeveel jy bestee. Trek ’n bankstaat sodat jy kan sien hoe-veel jy bestee — dikwels is daardie klein bedraggies baie meer as wat ’n mens besef. Wanneer jy die syfers voor jou het, kan jy beter planne beraam.

Onderskei tussen jou behoeftes en dinge wat nie noodsaaklik is nie, byvoorbeeld kruideniersware teenoor betaalkanaal-televisie. Jou behoeftes kom eerste en eers wanneer dit alles betaal is en daar geld oorbly, is daar geld vir luukses.

Kyk weer na versekeringspremies en kry kwotasies om te bepaal of jy die beste dekking vir die beste prys kry.

Maak jou huis krag-effektief soos om gas eerder as elektrisiteit te gebruik, energiebesparende gloeilampe of ’n kleiner geyser. Kyk ook of sonkrag nie op die lang duur ’n goedkoper opsie is as om ’n kragopwekker te gebruik nie.

Dink twee maal voordat jy êrens heen ry, veral langer afstande. Die brandstof en tolhekuitgawes raak hoog. ’n Inwoner noem dat hulle gereeld regkom met saamrygeleenthede stad toe.
Nog ’n inwoner se raad is om jou nuwejaarsvoornemens ook vir jou beursie te laat werk.

Jy wil gewig verloor en gesonder eet; so moenie daardie bottel wyn, aartappelskyfies en sjokolade koop nie en eet interessante geregte sonder vleis. Maak tuis kos eerder as om wegneemetes te kry of te gaan uiteet.

Koop vleis en groente in grootmaat en direk by die boer en verwerk dit self. Daar is dan gou ’n paar honderd rand ekstra beskikbaar.

Nog ’n inwoner se raad is om bloot eenvoudiger te leef. Groter is nie altyd beter nie en mense het minder nodig as wat hulle besef. Skaal af indien nodig.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button