Local sport

Sy laat die bielie-blinklywe byt

Chené Swart, Bela-Bela se eie Sarah de Jager, het nóg ’n kerf op haar (hengel)stok.

Die Pos het in 2023 ’n onderhoud met Chené gevoer nadat sy gekies is om Limpopo by die o.19-vrouekampioenskap te verteenwoordig. Die hengelaars het van 9 -17 Desember by die Bloemhofdam in Noordwes lyne natgemaak. Sy het in die onderhoud gesê sy wil baie graag haar persoonlike beste vangs — ’n barber van 10,8 kg — verbeter.

Die kampioenskap het verskeie uitdagings opgelewer. Storms wat die deelnemers gedwing het om skuiling te soek het die kampioenskap onderbreek en ’n paar visstokke het ge-
breek, maar dit het nie die 40 deelnemers van stryk gebring nie. Hulle het rekordvangste gehad.

Links: Chené Swart spog met haar persoonlike beste — ’n yslike barber van 13,5 kg.

Chené het inderdaad in haar doel geslaag en ’n knewel van ’n barber (13,5 kg) wal toe gebring. Dit het aan haar ’n algeheel 24ste plek in die kampioen-
skap besorg.

Die Limpopo-span waarvan sy deel was het in die sesde plek uit nege spanne geëindig. Chené is daarna gekies om aan die Suid-Afrikaanse proewe deel te neem. Sy is die enigste vroulike hengelaar van Limpopo wat dié eer te beurt geval het en is ook die jongste deelnemer.

Die uitslae van hierdie proewe sal na verwagting teen middel Januarie bekend gemaak word. Indien sy die nasionale span haal, wag daar vir haar die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVHOF) se spelhengelkompetisie in Oktober by die Vaaldam.

Chené hou Hoërskool Warmbad en Bela-Bela se naam hoog.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button