Local news

Vrugteman van Modimolle oorlede

Fanie van Zyl (77), wat jare lank bekend was as die “vrugteman” in Modimolle, is onlangs oorlede.

Van Zyl se stalletjies voor die Kokanje-aftreeoord en Hoërskool Nylstroom was vir baie inwoners ’n gereelde stilhouplek om hul koskaste aan te vul.

Volgens sy vrou, Tienie, ontvang sy gereeld oproepe van inwoners wat navraag doen oor hoe dit met haar man gaan. Hulle het na Kroonstad verhuis toe haar man se gesondheid versleg het.

Nadat hy onverwags sieker geword het, is hy in die Moot-hospitaal in Pretoria opgeneem waar hy op Donderdag 17 Augustus oorlede is.

Van Zyl het 30 jaar lank in die Doornfontein-distrik geboer en was betrokke by die boeregemeenskap, asook die Waterberg se politiek. Nadat die plaas verkoop is, het die egpaar vir ’n aantal jare in Modimolle gewoon waar hy sy twee stalletjies se vars vrugte aangevul het met vars voorraad uit Letsitele en Tzaneen wat hy op grootmaat tuis verpak het.

Hy laat sy vrou Tienie, asook vyf kinders en agt kleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button