Local news

Die Pos se personeel sien uit na ’n welverdiende blaaskans

Die jaar was lank en warm, maar ons personeellede hier by Die Pos het die wa deur die drif getrek en teen die tyd dat inwoners hierdie rubriek lees, is ons kantore gesluit en span ons so ’n bietjie uit totdat ons weer op Maandag 8 Januarie op ons POS is.

Ons het by ’n paar van ons personeellede gaan hoor wat hulle in die vakansie gaan doen en daar is beslis een universele antwoord: Almal wil graag meer tyd met hul geliefdes deurbring.

Ronel van Jaarsveld, verslaggewer, Modimolle:

Ek wil dié vakansie elke minuut saam met my gesin koester. Dit voel asof 2023 teen ’n spoed verby gestoom het. Ek het vanjaar deeglik bewus geword van hoe kort tydjie jy jou kinders onder jou vlerk het. Ons het besluit om te kamp op afgeleë plekke waar selfoonseine en ander vermaak skaars is. Ons gaan bordspeletjies speel, sterre kyk, groot vure bou, lag en oor lawwe dinge gesels.

Anneline du Preez, finansiële beampte, Bela-Bela:

Ek gaan net elke dag in son lê en roomys eet en ontspan ná die jaar se harde werk.
Ek gaan soggens op die strand stap en bewus word van die natuur. Ek wil elke
oggend net dankbaar wees vir die jaar se talle seëninge.

Maria Oberholzer, bemarker, Bela-Bela:

Ek gaan baie liefde en aandag aan my twee hondjies, Bambi en Boesman, gee. Ek voel sleg omdat ek hulle ’n bietjie afskeep. Soggens voor werk wil hulle altyd nog ’n bietjie speel. Ek wil ook my huis ’n bietjie opruim en net lekker rustig wees.

Petro Greeff, bemarker, Modimolle:

Ek sal graag hierdie vakansie so veel as moontlik wil uitgaan op die diepsee om roofvis te vang saam met my gesin. Hierdie sal vir my kind haar eerste diepsee-ervaring wees en ons almal sien baie uit hierna.

Dion van Eck, rekenaarafdeling, Bela-Bela:

Ek gaan in die kombuis besig wees en bak en brou vir Kersfees. Ek wil lekker gemmerkoekies, vlakoekies en mueslikoekies maak. Ek bêre dit in glasbottels en dan is daar darem weer vir ’n lang tyd iets in die huis om aan te peusel.

Willie Nel, uitlegkunstenaar, Bela-Bela:

Ek het nie enige vakansieplanne hierdie Desember nie. Ek wil net gehaltetyd saam met my gesin deurbring.

Charmaine Lourens, eienaar en redakteur:

Ná ’n lang jaar se harde werk en min sien is dit familietyd! Ek sien uit om met my seun, Quinton, wat in Kaapstad woon, te kuier. Ons vier Kersfees by my dogter, Lara, se huis in Pretoria en ry dan Kwa-Zulu Natal toe om met my bejaarde ma en van my familie daar te kuier. Ons is almal opgewonde.

Marietjie Steenkamp, verslaggewer, Mookgophong:

Die Desember-vakansie is een van ontspan en tyd maak vir familie en natuurlik om my stokperdjie te beoefen. Ek gaan sommer ure in die glas-ateljee deurbring waarvoor ek deur die jaar min tyd kry. Dit is die tyd om my kreatiewe kant uit te leef.

Lynette Strydom, verslaggewer, Bela-Bela:

Ek sien baie daarna uit om tyd saam met my familie deur te bring. Ek wil graag ‘n groentetuin begin en meer aandag aan my kanarie-boerdery gee.

Sue Kotze, proefleser, Bela-Bela:

Ek beplan om saam met my liefmense, wat ek hierdie jaar afgeskeep het, om ’n gelaaide tafel te sit en kuier. Om spontaan te skater van die lag vir jongmense se kwinkslae. Daar is ’n paar boeke wat ek nog nie by uitgekom het nie, maar ek dink my hondekind Barclay gaan my nie toe laat om rustig te wees nie. Hy is so ietwat van ’n aandagvraat.

Related Articles

Back to top button