Local news

Bela-Bela-inwoners opgewonde oor Anglo-Boereoorlog-uitstalling

Geskiedenisliefhebbers kry hierdie Desember ’n groot meevaller wanneer die Bela-Bela Heritage-groep, in samewerking met die Anglo-Boereoorlog-museum, van hul artefakte na Bela-Bela bring.

Hierdie unieke gebeurtenis vind op Vrydag 22 Desember in die NG Kerk Moedergemeente se saal plaas. Besoekers kan op ’n reis deur die geskiedenis gaan met die keur van artefakte wat op uitstalling sal wees.

Die dag beloof om ’n insiggewende blik op voorwerpe uit die verlede, insluitend ou swepe wat meer as 100 jaar oud is, geweerdoppies vanuit die Anglo-Boereoorlog, glasware, perdeskoene en selfs ’n pom-pom rondte te wees. ’n Pom-pom is ’n kanon wat deur die Boere-magte gebruik is. Een van die kosbaarhede wat op uitstalling is, is ’n teleskoop wat aan Lord Frederick Sleigh Roberts, bevelvoerder van die Britse-magte, behoort het.

Vrylating-sertifikaat van ’n Kaapse-rebel.

Die uitstallings is ’n direkte verbinding met die Waterberg-gemeenskap se geskiedenis. Johan Van Niekerk, voorsitter van Bela-Bela Heritage, sê hierdie gebeurtenis is hopelik die begin van ’n groter inisiatief. Hy droom daarvan om ’n jaarlikse Anglo-Boereoorlog-fees in Bela-Bela te vestig. Die doel is om die gemeenskap in te lig oor ons omgewing se ryk geskiedenis en ook om die belangstelling van jongmense te prikkel.

Hollandse propaganda oor pres. Paul Kruger en oorspronklike reisdokumente wat deur die Britte aan Boere uitgereik is om oor grense te mag reis.
Die tele-skoop wat aan Lord Roberts, bevelvoerder van die Britse-magte tydens die Anglo-Boereoorlog, behoort het.

Tydens sy besoek aan Die Pos is selfs gesels oor die moontlikheid om begeleide uitstappies na geskiedkundige plekke in die Waterberg-omgewing te onderneem.

Van Niekerk sal ook sy tweede boek met gedigte en kortverhale oor die Anglo-Boereoorlog op hierdie dag bekendstel.

Hy moedig die gemeenskap (oud en jonk), en in besonder geskiedenisliefhebbers, aan om betrokke te raak by toekomstige projekte. Vir meer inligting en om deel te word van Bela-Bela Heritage, bel vir Johan van Niekerk by tel.076 356 6175.

Related Articles

Back to top button