Blogs

Die Lig vir die wêreld

Op Vrydagaand 24 November het ’n groepie amateurtoneelspelers van Mookgophong die feestyd met net die regte mengsel van grootmens-nostalgie en kinderlike opregtheid ingewy.

Ds. Louis Pretorius van die NG Kerk het Esté Pienaar, bekroonde toneelkundige en afgetrede onderwyseres, genader om ’n Kersspel op die planke te bring.

Voor jy jou oë kon uitvee, het sy die teks (Die Lig vir die wêreld) gereed gehad, haar spelers bymekaar gemaak en begin om ’n vars invalshoek op die bekende Kersverhaal te gee. Die eindproduk het almal met groot vertedering en waardering gelaat.

Pienaar het PG du Plessis se gewilde Koöperasiestories se karakters van weleer afgestof en ’n aangrypende Kersstorie in hul monde gelê.

Links voor op die “stoep” het Veltie (Neels van Vliet), Mietie (Lettie Lombaard) en Genis (Riaan van der Wal) hul bedenkinge geopper oor ’n Kers-opvoering in hulle dorp wat ongetwyfeld die potensiaal vir groot moles ingehou het, maar toe gelukkig heel verrassend uitgedraai het.

Regs voor op die verhoog het juffrou Booysen (Yvette van der Wal) gestalte gegee aan die vertellers se verhaal. Soos gebruiklik moes sy haar kinderkarakters vir die Kersverhaal aanwys. Voor haar het ’n paar kinders met blink ogies vol verwagting gesit. Onder hulle was die ses brandarm Herselman-kinders, wyd berug vir hul kattekwaad wat nooit ophou nie.

Omdat Elize Wentzel so mooi en slim was, het sy jaar na jaar die rol van Maria gekry.

Hierdie keer was haar doppie egter geklink, want Issie Herselman (Monét van der Wal) het haar vooraf gedreig met die allervreeslikste storie van ’n kat-wilgersaad wat dan konsuis in haar oor gedruk sou word totdat daar ’n hele boom uitgroei indien sy haar mond durf oopmaak om te sê sy wil weer Maria wees. Dit het gewerk, want toe Juffrou vra, het sy net verskrik haar vlegsel sit en kou.

Issie neem toe ook sommer die juffrou se werk oor en voor jy kon sê “herberg”, is al ses die Herselman-kinders in die ses hoofrolle. Die rolle is die drie wyse manne (Duardt van Wyk, Marnus Botha en Marius Storbeck), Maria (Monét van der Wal), Josef (Reuben van der Wal) en die engel (Zoë Viljoen).

Dit is net daar waar die dorpsmense en veral Koöperasiestories se driemanskap die ergste begin verwag, want in hierdie opkomende Kersspel was al die elemente van ’n fiasko opgesluit — sés elemente om presies te wees.

Die gehoor kon die afwagting aanvoel toe die laaste persoon die laaste sitplek by die Kersopvoering inneem. Die meeste toeskouers se oë was vasgenael op die aandoenlike gebeure op die verhoog. Hier en daar het iemand egter steeds om hulle bly kyk, want met die arm, vrek stout Herselmantjies in die omtrek, was enigiets moontlik.

Tog ontvou die Kersgebeure heeltemal vreedsaam op die verhoog; elke woord en lied in plek. Amper laaste is dit die wyse-manne wat arriveer met hul geskenke van goud, wierook en … mirre?

Die gemeente knip-knip hulle oë. Kyk … en kyk weer. Sowaar! Die derde Herselmantjie-wyse-man lê iets groterigs langs Baba Jesus in die krip neer. Kan dit wees? Ja, dit is. Dit is wraggies die skaapboud wat die susters van die gemeente aan die gesin geskenk het vir hulle Kersete.

Mag ons almal vanjaar opnuut hierdie besonderse Kersboodskap deel met die skrywer en akteurs van “Die Lig vir die wêreld”.

Related Articles

Back to top button