BlogsLifestyleLocal Lifestyle

Spoorlangs om vir Ouma te gaan kuier

Opgewonde staan ons sewe kinders langs die perron, koppe na links gedraai en ore gespits om eerste te kan uitbassuin die trein is in aantog.

Die lokomotief stoom enkele oomblikke later al tjoekepakke die Pretoria-stasie binne. Dit is die laat sewentigerjare en wat is nou lekkerder as om een keer ’n jaar saam met Pa en Ma te wag vir die trein wat fluitend tot stilstand kom. Dit bring die mooiste vakansieherinneringe terug.

Die groot wag begin reeds wanneer ouma Lenie ’n brief vir ons stuur om te sê sy sien uit na ons kinders se kuier by haar op Louis Trichardt (nou Machado). Dan begin ons die dae aftel tot die skool sluit en wanneer Pa se rooi kombi uiteindelik teen sononder Pretoria se kant toe koers kry, is ons skoongeskrop en slaggereed met ons bagasie en ’n kosmandjie vir die aand se oorslaap op die trein.

ADVERTENSIE

Pa het padlangs gepreek dat ons moet onthou om ons te gedra op die trein anders is daar pêrre. Ouboet Martin moes seker maak ons verlaat net die kompartement sou een van ons ’n draai moet gaan loop en dan vat jy nog een saam om jou op te pas. Hy mag ook slegs die deur van die kompartement vir die kondukteur oopmaak om al sewe van ons te kom tel voordat hy ons treinkaartjies knip.

Foto: freepik

Ma het gewoonlik die prekery onderbreek wanneer sy in ’n heserige stem weggetrek het met How much is that doggie in the window en dan het Pa maar die pak pick ’n mix sjokolade wat hy onder sy sitplek wegsteek, agtertoe gestuur.

Die treinrit was altyd so lekker dat ons nooit agterna gaan klik het by Pa of Ma nie. Pretoria se stasie was blinkgepoets en ons het nie onveilig gevoel nie. Daar is elke keer naarstiglik gesoek na die regte kompartement wanneer die trein tot stilstand kom en fluks ingeklim met die kondukteur wat help om ons tasse deur die venster aan te gee.

Dit was die Apartheidsjare en die voorste treinwaens was slegs vir blankes. Die anderskleuriges het doer agter saamgebondel vir ’n plek.

Ons het met ’n gestoot en stampery probeer om almal gelyk deur die klein opskuifvenster van die kompartement te loer vir die fluitjieblasery van die kondukteur en om ’n afskeidwuif vir Pa en Ma te gee voordat die trein rukkerig weggetrek het.

Die bankbeddens was maar aan die harde kant en bo-op mekaar gestapel — drie of vier aan elke kant, wat ’n gestryery afgegee het wie waar gaan slaap. Ek het heelbo gaan uitstrek en soms het ons deur die nag slaapplekke uitgeruil. Ma het gesorg dat ons kon smul aan koue hoender, aartappeltjies, doodgekookte eiers en grondboontjiebotter- en strooptoebroodjies. Daar was ook rooi aanmaakkoeldrank en lekkergoed.

Met elke stasie in sig het ons opgespring en ons koppe by die venster uitgedruk om die naambord hardop te lees. Laatnag het die trein Soekmekaar binnegestoom, maar in die flou lig was daar geen siel in sig wat mekaar gesoek het by daardie klein stasie nie.

Iewers deur die nag het ons aan die slaap geraak, maar klokslag voor die son uit is, gereed gesit vir wanneer die Louis Trichardt-stasie naderkom. Ons het dan opgewonde beurte gemaak om vir Ouma, wat doer ver alleen op die perron staan, te waai.

Ouma was net soos ons uit haar vel van blydskap om ons vas te druk voordat ons almal agterop haar groot, groen Ford-bakkie afgesit het na haar huis. Daar was die potte al aan die kook op die koolstoof, want sy was ’n voorslag in die kombuis en bekend vir haar heerlike gestoofde vleis, aartappels en stampmielies. Op die kombuistafel was varsgebakte brood en glasflesse met heuning en room waaraan ons dadelik weggelê het.

In die dae wat volg het Ouma vir ons verskillende hoede uit karton gemaak en oorgetrek met gekleurde kreukelpapier. Ons het daarmee singend agterop haar bakkie deur die dorp gery en vir almal gewaai.

Ons meisies het van Ouma se naaldwerkkamer gehou met al die baie lappe en wol. Ons het vir ons poppe rokke gemaak en Ouma het ons geleer brei, hekel en naaldwerk doen op haar ou Singer-naaimasjien waar ’n mens nog die slinger moes draai en met die voet moes trap. Die seuns het soggens die eiers uit die hoenderhok gaan haal en haar gehelp in die groentetuin.

Ouma was ’n formidabele vrou wat op die dorp bekend was as almal se ouma. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie en toe dit mode raak om blomme uit draad te maak en met gekleurde ou sykouse oor te trek, moes sy destyds bontstaan met al die bestellings. Sy het ook self die lappies gehekel wat uitgestrek oor haar sitkamerbanke gelê het. Ouma se rokke het altyd by haar skoene en handsak gepas en in haar gryskroon was ’n ligpers streep of drie.

Sondag in die kerk het ons die pakkie pienk pilletjielekkers in haar handsak gesoek tussen die netjies gestrykte wit sakdoek en ’n botteltjie laventel. Sy het oral met ons geloop en spog en ons na al die neefs en niggies aangery.

Wanneer Kersfees aanbreek, het Pa en Ma opgedaag en daar is ’n groot makietie om ’n Kersboom gehou voordat ons onsself knuppeldik geëet het. Die poeding wat ’n versteekte 5c in gehad het en die yskoue stroopsoetkoeksisters was ons gunsteling.

Ons kinders het saam met Ouma trane weggepik wanneer ons moes begin oppak vir die tog terug huis toe.

Related Articles

Back to top button