Kersvader bly steeds deel van die pret
Of ons dit so wil hê of nie, Kersvader speel een van die hoofrolle in die Kersverhaal vir die meeste kinders — ook in Suid-Afrika.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2023/12/santa-claus-adobe-stock.jpg)
Ons is net ’n bietjie onverbiddelik om die arme man te klee in daardie vuurwarm, bedompige, bloedrooi pak dat hy in hierdie snikhete dae moet snak na sy asem.
In Australië by Alice Springs, waar dit op Kersdag by die 40°C is, dra Kersvader ’n fyn, koel baardjie, ’n hoed met luggate in, ’n rooi kortbroek, rooi kortmouhemp en sandale. Gawe mense, dié Australiërs.
Hoewel ’n donkiekar of ’n riksja beslis meer tradisioneel sou wees in Suid-Afrika, word van die arme man verwag om met sy slee en takbokke deur die stof te ploeter. Gelukkig maak ons in Desember nie kaggelvuur nie, so Kersvader kan darem veilig deur die skoorsteen glip.
Die takbokke en slee van Kersvader en sy aaklige skoorsteengewoonte is blykbaar uitgedink deur ’n Amerikaner, Clement Clarke Moore, wat in 1822 die gedig A Visit from Saint Nicolas vir sy kinders geskryf het.
Saint Nicolas, ’n heilige uit die 4de eeu, het blykbaar baie geld geërf en dit skelm vir die armes gegee. Een aand, lui die legende, het hy by die huis van drie pragtige meisies aangedoen wie se pa al sy geld verloor het. Hy het ’n sakkie vol goud deur die venster gegooi. Dit land toe in die kous wat een van die meisies voor die kaggel gehang het om droog te word.
Dié verhaal het mense aangemoedig om Oukersaand kouse op te hang met die hoop dat daar iets in sal land.
Kinders glo ewe getrou in die bestaan van Kersvader.
Die Britse posdiens het ’n paar jaar gelede al 750 000 briefies ontvang wat aan Kersvader gerig was. Hulle probeer om aan elkeen van hierdie kinders ’n kaartjie te stuur. Swede en Ysland dring glo daarop aan dat Kersvader ’n burger van dié land is, terwyl Groenland besluit het Kersvader se amptelike huis is in die dorpie Uummannaq.
In Engeland is ’n wet in 1551 gemaak wat alle burgers dwing om op 25 Desember ’n erediens by te woon, en wel te voet. As jy die wet — wat nog nie afgeskaf is nie — oortree, sal jou vervoermiddel gekonfiskeer word. Wonder of die spul Engelse dit ooit nog onthou?
’n Snaakse nasie is die Britte beslis. Op Kersdag ’n paar jaar gelede het daar 273 Britte in die hospitaal beland as gevolg van beserings wat hulle opgedoen het deur die kurkproppe van vonkelwynbottels.
Nie net die Britte is snaaks nie. In Spanje, Griekeland, Duitsland en Italië is ’n pil beskikbaar gestel wat kooplus tydens die Kerstyd beperk. Dis ’n antidepressant wat die mense se kooplustigheid glo heeltemal demp.
Miskien moet ons ’n paar ton van daardie pille van Kersvader vra vir volgende Kersfees.