Local newsMunicipal

Klagtes by Groen Skerpioene ingedien oor water en riool

“Ons moet net nie moed verloor nie, maar aanhou vasbyt soos ’n Jack Russell totdat ons verandering sien. Dit is moontlik.”

Marcelle Maritz, leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Limpopo, het onlangs die Groen Skerpioen, oftewel die omgewingsbestuur-inspektoraat, gevra om dringend in te gryp by die uitgerekte water- en rioolprobleme by talle munisipaliteite in Limpopo.

Volgens Maritz kan die oorsaak van hierdie probleme, wat oor jare strek, voor die deur van wanadministrasie gelê word.

“Modimolle en Mookgophong sukkel al jare lank met waterprobleme. In Rooiberg is die diensverskaffer nie betaal nie en in Bela-Bela is die rioolprobleme erger in die buitewyke. Wanneer daar watertekorte is, volg rioolprobleme,” het sy gesê.

ADVERTENSIE

Volgens die party kort daar dringende ingryping om waterprobleme op te los in Phalaborwa, Kampersrus, Burgersfort, Steelpoort, Polokwane, Musina, Makhado, Mokopane, Mookgophong, Modimolle, Bela-Bela, Thabazimbi, Northam, Roedtan, Tzaneen, Rooiberg en Hoedspruit.

Jeedee Cloete (bo) en Marcel Maritz van die Vryheidsfront Plus het die skare toegespreek.

Ingryping vir rioolprobleme is nodig in Phalaborwa, Bela-Bela, Lephalale, Musina, Makhado, Modimolle, Thabazimbi, Northam, Kampersrus, Mokopane en Marble Hall.

“Die meeste van die probleme word veroorsaak deur wanbestuur omdat die infrastruktuur nie op standaard is nie en instandhouding nie gedoen word nie. Wanadministrasie en korrupsie het ook ’n groot impak op noodsaaklike dienslewering. Die gemeenskappe se grondwetlike regte word geskend en die situasie vererger daagliks. Die onvermoë van munisipaliteite om verantwoordelik op te tree kan nie langer geduld word nie,” het sy gesê.

Sy het gesê dat die party saam met die Groen Skerpioene werk om die bewerings te ondersoek. Hulle het ook die saak na die nasionale raad van provinsies verwys om verder aandag te geniet.

  • Talle inwoners van Bela-Bela het Maandagaand 4 Desember, by Laerskool Warmbad byeengekom vir ’n inligtingsvergadering oor die erge water- en rioolprobleme waaronder die dorp gebuk gaan. Jeedee Cloete, Vryheidsfront Plus (VF Plus)- raadslid van Wyk 1, het verduidelik dat daar te min water gepomp word om aan die behoeftes van al die inwoners te voldoen. Op die oomblik word beurttye ingespan om te sorg dat die water wat beskikbaar is by al die woonbuurte uitkom. Hy het vertel die infrastruktuur is nie behoorlik onderhou nie.

“Ons kry nie die hoeveelheid water wat die dorp benodig gefiltreer nie. Die reservoirs word nie aangevul nie, want die aanvraag is meer as wat gesuiwer word”.

Hy het voorts vertel van riool wat van alle kante die dorp binne sypel. Inwoners is ook toegespreek oor die moontlikheid om vorentoe belastingeld terug te hou.

Related Articles

Back to top button