LifestyleLocal newsRecipes

Koekies te mooi vir koekblik

Amper te mooi om te wil proe!

Die noukeurige handewerk van ’n entrepreneur van Modimolle is stroopsoet, maar ’n mens oorweeg dit om die fyn versierde soetkoekies eerder in die kas te bêre as om ’n mens se tande daarin te slaan. Elke koekie kry aandag van die bakker wat met geoefende hale van die suikerkwas die fynste detail aanbring.

Elishia Timmerman se werksarea staan volgepak met rakke koekies wat in ’n Kerstema versier is — reg vir die feesseisoen se bestellings. Daar is rakke vol kleursel, versiersel en ’n verskeidenheid koekiedrukkers om ’n klein kunswerkie te skep. Dié tuisbly-ma vertel dat sy nooit voorsien het dat sy ’n onderneming van haar huis af sou bedryf nie.

Elishia Timmerman van Modimolle weet hoe om ’n soetkoekie, met versiersuiker, mooi aan te trek.

“Ek en my man het vroeg besluit dat ek tuis sou bly terwyl ons kinders klein is om hulle te versorg. Ek wou egter graag iets doen om ’n bykomende inkomste in te bring en het besluit om mooi versierde koekies te bak nadat ek ’n artikel daaroor gelees het,” vertel sy.

Sy het baie klein begin: dit het haar ure geneem om ’n baksel te voltooi met ’n klein stofie en een pannetjie waarmee sy gewerk het. Ses jaar later het haar onderneming Kookies Designed uitgebrei en kon sy nuwe en groter toerusting koop.

“Ek glo vas as die Here vir jou die idee gee, gaan hy vir jou die kliënte stuur. En dit is presies hoe dit uitgewerk het!”

Selfs deur die Covid 19-tydperk toe die wêreld stil geraak het, het haar kliënte opgedaag en haar onderneming het stadig maar seker gegroei.

Op soek na ’n grassnyer het sy en haar man, Ivan, ’n klein industriële oond vir ’n appel en ’n ei raakgeloop. ’n Ruk daarna gebeur dieselfde met ’n industriële menger.

“Ek het ’n paar mengers uitgebrand; hulle kon nie die werk baasraak nie!”

Timmerman sê dat sy haarself geleer het en koekiedrukkers stuk-stuk gekoop het. Sy het later ’n drukker gekoop sodat sy vinniger kon werk en koekies meer spesifiek volgens ’n verlangde tema kan versier. Sy voeg bykomende detail met die hand by. Daar is koekies in elke denkbare tema wat haar kombuis verlaat: prysuitdelingkoekies met elke kind se naam op, koekies met ’n wit versierlaag en strepies verf wat mense dan self kan verf en vir spesiale geleenthede is daar lugballone, diere, karakters uit kinderflieks en wat nog. Ja, lag sy, daar is heelwat mense wat sê dat die koekies eerder gebêre as geëet word.

“Ek werk soggens hard om alles af te handel sodat ek smiddae saam met my kinders kan deurbring. Hierdie is nie net ’n koekie wat ek uitstuur nie. Ek bestee baie tyd aan elkeen en stuur ’n ietsie van my hart saam met hulle uit. Daar gaan nie een van hulle by my deur uit as ek nie heeltemal seker is hulle is perfek nie.”

Related Articles

Back to top button