EntertainmentLifestyleLocal news

Vrolike Kersliggies wink weer

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle se jaarlikse Kersliggies is elke jaar ’n vrolike trekpleister vir inwoners en besoekers.

Vanjaar is geen uitsondering nie en daar is boonop ’n propvol vermaakprogram. Die Lumen-skouspel vind van 2-23 Desember plaas.

Die duisende liggies wat aan bome, geboue en pasgemaakte staanders hang, omtower die terrein in ’n wonderwêreld van kleur. Volgens Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, wil hulle drie doelwitte met die fees bereik.

“Ons wil graag vir ons kinders ’n feestelike atmosfeer skep sodat hulle ook die liefde van Jesus kan ervaar. Ons wil die gemeenskap betrokke kry op die kinderhuis se terrein en derdens wil ons geld genereer sodat ons ons begroting kan laat klop.”

Deur die fees te ondersteun, lewer inwoners ’n baie welkome bydrae tot die sowat 170 kinders se versorging.

Daar is vanjaar ook verskeie stalletjies deur lede van die gemeenskap wat op hierdie manier ’n inkomste wil verdien.

Ingang is steeds net R10 per persoon.

“Ons liggies bly aan al reën dit. Dit is net as dit te hard reën dat ons dit sal afskakel,” het Van der Merwe gesê.

Veilige parkering is op die terrein beskikbaar.

Die vermaakprogram lyk as volg: Op Saterdag 2 Desember is daar musiek met Skotse doedelsakke om 19:00 en om 19:30 tree Sonet Shields op. Op Saterdag 7 Desember om 18:00 is Teen Ons Wil op die verhoog en om 19:00 tree Ruhan du Toit op. Op Maandag 11 Desember is Louis Deysel aan die beurt om 18:30 en op Woensdag 13 Desember is dit Kobus Botes om 18:30. Doane Smith tree op Vrydag 15 Desember om 18:30 op en op Saterdag 16 Desember is daar ‘n laservertoning om 19:00. Op Sondag 17 Desember is Kyron Turnbull om 18:30 aan die beurt. Neo Desebel tree op beide Woensdag 20 Desember en Vrydag 22 Desember om 18:30 op.

Vir meer inligting, skakel tel. (014) 717 5264/12.

Related Articles

Back to top button